Deur Isabel Venter 30 Julie 2021 20:42 soos op netwerk24.com.
Die polisie in Gauteng het vir eers die ondersoek gestaak oor wat moontlik in ’n gastehuiskamer gebeur het wat dit in ’n bebloede toestand agtergelaat het.
Dit volg nadat dit vroeër bekend geword het die DNA wat in die kamer gevind is, word nié verbind met die moord op Yolandi Botes nie.
Netwerk24 het vroeër berig die DNA-profiel van die bloed is die van ’n onbekende manlike persoon.
Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het Vrydag by navraag gesê die ondersoek sal tydelik gestaak word terwyl daar aan Botes se saak gewerk word. Hy het ook die DNS-uitslae bevestig.
Die besluit is geneem omdat daar in dié stadium nie ’n liggaam is wat aan die toneel verbind kan word nie.
Volgens Masondo sal die saak heropen word indien nuwe leidrade na vore kom.
Die 35-jarige Botes is die laaste keer lewend gesien toe sy op 29 April van George na die O.R. Tambo-lughawe gevlieg het. Sy sou vir haar kinders gaan kuier, maar het nooit opgedaag nie.
Nege dae later het die soektog na haar geëindig toe dele van haar lyk op 4 Mei in die Vaalrivier naby Villiers in die Vrystaat gevind is.
Voor dit is die polisie na die Oceanic Lodge-gastehuis in Kempton Park ontbied oor plasse bloed in een van die kamers. ’n Bebloede mes is ook in die kamer aangetref.
Op die veiligheidskameras kon gesien word die kamer is deur ’n man in ’n kappietop gehuur.
Die man het die kamer verlaat sonder enige merkbare beserings met ’n sak wat soos ’n skootrekenaarsak lyk.
Masondo kon nie sê of dié beeldmateriaal deel gevorm het van die polisie se ondersoek nie.
Odette van Staden, deel van Mike Bolhuis se ondersoekspan, het die DNS-uitslae verwelkom.
“Gissings hieroor kan nou gestaak word en ’n mens kan ander leidrade opvolg,” het Van Staden gesê.
Botes se familie het vroeër aangekondig dat ’n beloning van R50 000 uitgeloof is vir enige leidrade wat kan lei tot ’n inhegtenisname van die moordenaar/s.
Volgens die inskrywing op Facebook oor die beloning word Botes se trouring en hangertjie nog vermis.
Join our list
Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.