Moord in Parow-stegie: beskuldigdes in hof

Soos op netwerk24. Deur Jana Breytenbach 15 Januarie 2021 16:45 

Twee mans wat teregstaan op die moord op die 81-jarige John Edward Morgenrood in ’n stegie langs Voortrekkerweg in Parow bly in aanhouding nadat hulle Donderdag in die hof verskyn het.

Morgenrood is op 22 Desember aangeval op pad terug na sy voertuig nadat hy ’n skildery aan die private ondersoeker Mike Bolhuis gaan pos het.

Hy is later in die hospitaal aan sy beserings dood.

Kapt. Kevin Williams, woordvoerder van die Parow-polisiekantoor, het gesê Marcelino Abrahams (32) en Raven Medicine (37) het Donderdag in die landdroshof in Bellville op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede verskyn. Die saak is tot 19 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel.

Man wat skildery vir Bolhuis verf, sterf in rooftog
John Edward Morgenrood (81) by die skildery wat hy vir Mike Bolhuis gemaak het.

Een van Bolhuis se private ondersoekers, wat die saak help ondersoek, het gesê Morgenrood se lykskouing moet nog afgehandel word. Sy lyk is Donderdag van die Doves-lykshuis in Observatory na die forensiese afdeling in Tygerberg geneem.

“Dit gaan goed met die familie onder die omstandighede en hulle is verlig oor die vinnige verwikkelinge,” het Bolhuis gesê.

Morgenrood se familie het Dinsdag ’n herinneringsdiens vir hom in Parow gehou. Hulle wag vir die afhandeling van die lykskouing sodat hulle finaal van hom afskeid kan neem.

Speurders van die polisie in Parow het die beskuldigdes ’n week gelede in hegtenis geneem.

Morgenrood se dogter René Downing het verlede week aan Netwerk24 gesê hy het ’n groot bewondering vir Bolhuis gehad en het die skildery as ’n verrassing vir hom gemaak.

Morgenrood het sy skildery, waarop hy baie trots was, op 22 Desember om 16:30 gepos.

Net voor 18:00 het iemand Morgenrood se vrou, Cynthia, gebel. Hulle het haar nommer op Morgenrood se kruk gery nadat hy erg deurmekaar in die stegie aangetref is.

Hy is met ernstige hoofbeserings en bloeding op die brein na ’n hospitaal geneem, waar hy Oujaarsaand dood is.

READ  Bolhuis gryp in ná man se dood

Op kringtelevisiebeeldmateriaal is gesien hoe twee mans hom in die stegie aanval. Die polisie en Bolhuis se ondersoeker het informante betrek om die verdagtes op te spoor.

Die veiligheid van hierdie stegie is in die kollig nadat ook Maria Williams, die oud-Springbok Chester Williams se weduwee, op 18 Desember daar aangeval is nadat sy en ’n vriendin die winkel Fabulous Wear besoek het.

Die winkel se bestuurder, Adrian Smith, het gesê ’n paar mans hulle reeds dopgehou terwyl hulle in die winkel was. Toe Williams en haar vriendin die winkel verlaat, het Smith gesien dat die mans hulle agtervolg. Sy het een van haar werknemers gestuur om hulle te waarsku, maar dit was sekondes te laat. Williams was toe reeds met die vuis in die gesig geslaan.

’n Derde slagoffer, Elzét Stoffberg, het later gesê dat sy op 24 Desember ’n blok van dié stegie af in nog ’n stegie langs Voortrekkerweg aangeval is. Sy is met die vuis in die maag geslaan en van haar juweliersware beroof.

Nie Williams of Stoffberg het sake by die polisie aanhangig gemaak nie.

Bolhuis meen dit is ’n fout. Mense moet die voorvalle by die polisie aanmeld. Indien hulle dit nie doen nie, sal die owerhede nie weet watter gebiede onveilig is nie.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.