Vrou uit R164 000 vir hond geswendel

Vrou uit R164 000 vir hond geswendel

’n Weduwee van Thabazimbi wie se man in Julie aan Covid-19 dood is, is derduisende rand kwyt in ’n beweerde slenter toe sy ’n Franse bulhond op die internet probeer koop het.

 

Sanel du Plessis (36), wat nooit die hondjie gekry het nie, sê sy kan nie glo sy het in die strik getrap nie.

 

“Gaan kyk liewers self na ’n hond as jy dit wil koop. Moenie daarvoor val as daar gesê word die hond sal afgelewer word nie.”

 

Sy het klagte van bedrog by die Thabazimbi-polisie aanhangig gemaak. Haar man, Driek (39), is in Julie aan Covid-19 in die Mediclinic Limpopo in Polokwane dood. Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig die klagte word ondersoek.

 

Du Plessis het verlede week, ná ’n soektog op die internet vir ’n Franse bulhond, afgekom op die webtuiste www.BlessPuppiesHome.co.za.

Sy het per WhatsApp met hulle gekommunikeer en hulle het foto’s vir haar gestuur van nege weke oue Franse bulhondjies.

 

’n Man wat net as “Bles” bekend is van Bless Puppies Home, het vir Du Plessis gesê hulle is in Upington in die Noord-Kaap. Hy het in ’n WhatsApp-boodskap gesê die hondjie kan per vliegtuig na die naaste lughawe aan Du Plessis gevlieg word en van daar met ’n koerieronderneming vervoer word. Die koerierdiens se naam word op regsadvies weerhou.

“Is dit ’n betroubare koerierdiens?” het Du Plessis in ’n WhatsApp gevra. Bless Puppies Home het haar laat weet “hulle is 100% betroubaar”. Hulle het selfs ’n video van die hondjie gestuur.

 

Die hondjie sou R3 500 kos, wat afleweringskoste sou insluit.

Du Plessis het R3 500 vanaf haar Standard Bank-rekening in ’n African Bank-rekening, wat Bless Puppies Home verskaf het, betaal.

 

Kort daarna is Du Plessis laat weet dat sy nog R750 moet betaal vir ’n krat waarin die hondjie vervoer sou word. Enkele ure later het Bles Puppies Home per WhatsApp laat weet hulle het ’n verdere R13 000 nodig wat Du Plessis in geheel sou terugkry sodra die hondjie afgelewer is.

 

Aleksandra Dybala, voorsitter van die Franse bulhond-vereniging in Gauteng, sê sy het al “honderde kere” van dié tipe slenter gehoor.

“Ons waarsku mense nie net daagliks nie, maar uurliks teen die slenters. Die eerste gevaarteken vir die vrou moes die prys vir die hondjie gewees het.”

 

Volgens haar is die goedkoopste opreggeteelde Franse bulhonde nie vir onder R20 000 in Suid-Afrika te koop nie.

READ  R30 000 se donasies vir haar leuens

Die versoeke vir meer geld vanaf Bless Puppies Home aan Du Plessis het ingestroom en daar is gesê dit is vir die nodige permitte.

 

Du Plessis het altesaam R164 000 betaal.

“Hulle het gesê die hondjie word in ’n krat aangehou en as ek nie betaal nie, gaan ek die hondjie verloor en hy gaan na ’n skuiling gestuur word. 

 

Ek het die hondjie jammer gekry.”

 

Dybala sê swendelaars “speel op mense se gevoelens”.

“Dit is ’n ou laai van die mense om aan te hou vra vir meer geld nadat die aanvanklike bedrag vir die hond betaal is. Hulle gebruik foto’s van honde wat hulle op die internet kry, skep ’n webtuiste en sodra iemand onraad vermoed, sluit hulle die webtuiste en maak net ’n ander een oop.”

 

Dybala sê Franse bulhonde is van die honderasse wat wêreldwyd baie gesog is. Sy maan mense om nie honde op die internet te koop nie.

“Doen jou huiswerk en gaan die teler se besonderhede na met Kusa (Kennel Union of South Africa).”

 

Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) in Pretoria sê hulle word oorval deur mense wat gevang word met slenters waar “hondjies, katjies en voëls” op die internet te koop is.

 

Die swendelaars is uiters geslepe. Die kanse dat geld van ’n slenter suksesvol teruggekry kan word, is bitter skraal.”

 

• Netwerk24 het Bless Puppies Home Dinsdag en Woensdag gebel, maar niemand het geantwoord nie. In WhatsApp-boodskappe, waarin Netwerk24 navraag gedoen het oor Du Plessis se hond, was die enigste reaksie: “Ok.”

 

Netwerk24 se e-posse aan die koerierdiens is sedert Dinsdag onbeantwoord. ’n Man wat sê sy naam is “Matamola Jan”, het Woensdag die telefoon geantwoord. Hy het gesê Bless Puppies Home is ’n kliënt van hulle. Hy het daarna navrae na hul e-posadres, waarheen Netwerk24 sedert Dinsdag e-posse gestuur het, verwys.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.