Vrou bedrieg glo met vakansiehuise in Marloth Park

Deur Arisa Janse van Rensburg 24 Februarie 2021 18:13 op netwerk24.com:

’n Jong vrou wat daarvan beskuldig word dat sy vals identiteite aangeneem het om mense met vakansieverblyf te bedrieg, het vandeesweek in die hof verskyn.

Larissa Maritz is op 19 Februarie vanjaar in Port Shepstone, KwaZulu-Natal, vir bedrog in hegtenis geneem.

Volgens kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder, het sy Dinsdag in die landdroshof in Port Shepstone verskyn en is sy op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Larissa Maritz het Dinsdag op aanklag van bedrog in die hof verskyn. Foto: Facebook/Larissa Maritz

Sy staan volgens Mbele net op een aanklag tereg, maar die private ondersoeker Mike Bolhuis sê daar is minstens sewe klagte teen haar aanhangig gemaak. Die klaers het Bolhuis aangestel om die sake te ondersoek.

Maritz was na bewering veral bedrywig op die vakansiedorp Marloth Park in Mpumalanga en het vakansiehuise op die dorp verhuur. Hiervoor het sy glo skuilname gebruik of vals identiteite aangeneem. Sy het dan na bewering vir mense foto’s van die huise gestuur en wanneer hulle bespreek vir ’n deposito gevra.

“Wanneer mense daar kom, het sy (na bewering) vir hulle die verkeerde adres gegee of die plek wat sy verhuur, bestaan nie of daar is reeds mense in die huis,” sê Bolhuis.

Sy het vermoedelik ook nie alleen gewerk nie en Bolhuis beweer sy en haar “trawante” het vals profiele op sosiale media geskep wat hulle dan gebruik om mense te “intimideer” deur vir hulle boodskappe te stuur. So wou hulle glo die mense ontmoedig om sake teen hulle by die polisie in te dien.

READ  Colesberg Vergifte Onnies - PretoriaFM Onderhoud met James en Mnr. Mike Bolhuis

Bolhuis beweer Maritz het mense ook tydens die staat van inperking bedrieg deur glo vir hulle drank te belowe toe ’n verbod op die verkoop van alkohol verlede jaar die eerste keer ingestel is.

“Sy het hulle (na bewering) duisende rande se drank belowe en wanneer hulle die geld oorbetaal, verdwyn sy daarmee,” sê Bolhuis.

Klagte is nie hieroor aanhangig gemaak nie omdat die aankoop van drank toe onwettig was, sê hy.

Maritz is ná ’n lang ondersoek in ’n strandhuis in Port Shepstone vasgetrek wat glo aan haar ouers behoort.

Volgens Mbele sal sy op 18 Maart weer in die hof verskyn.

Ander klaers kan ’n e-pos aan Bolhuis by mikebolhuis1@gmail.com stuur of hom by 082 447 6116 bel as dit ’n saak van dringendheid is.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.