Vermoorde Botes wou glo nuwe lewe lei

Deur Isabel Venter 14 Mei 2021 21:08 soos op netwerk24.com.

Yolandi Botes, die vermoorde vrou wie se liggaamsdele verlede week in die Vaalrivier gekry is, het glo ’n lewe as eksotiese danseres in Gauteng verlaat voordat sy in Danabaai in die Wes-Kaap gaan woon het.

Mense wat weet, sê die 35-jarige Botes het ’n ander rigting met haar lewe ingeslaan nadat sy haar man, Wietzue Botes, ontmoet het.

Vier mense het Vrydag aan Netwerk24 bevestig Botes was tot drie jaar gelede nog by eksotiese danse betrokke.

Yolandi en Wietzue Botes Foto: Facebook

Van haar voormalige kollegas, twee in Gauteng en een in KwaZulu-Natal, het bevestig hulle het saam met haar gewerk, maar was te bang om verder daaroor te praat.

Sy het skielik verdwyn en niemand van hulle het geweet watter rigting sy toe ingeslaan het nie. Dit was vermoedelik in die tyd dat sy haar man ontmoet het.

Botes, wat ook die vanne Coleman en Beukes gebruik het, is die laaste keer lewend gesien toe sy op 26 April vanaf George na die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park gevlieg het. Sy sou glo in Brakpan gaan kuier by haar drie kinders (onderskeidelik 17, 15 en 9) uit ’n vorige verhouding, maar het nooit opgedaag nie.

Sy is glo in ’n huurmotor by die lughawe weg.

Die soektog na haar het tragies geëindig toe daar op 4 Mei in die Vaalrivier naby Villiers in die Vrystaat op liggaamsdele van haar afgekom is.

’n Tatoeëermerk op een van Botes se arms met die naam van haar man het gehelp om haar te identifiseer, het Marietie Louw-Carstens vroeër berig.

Odette van Staden, ’n ondersoeker van Mike Bolhuis se Specialised Security Services, het bevestig hulle is besig met selfoonsein-opsporing. Bolhuis se span ondersoek nou die saak nadat haar familie hom aangestel het.

Yolandi Botes (35) was nege dae lank vermis voordat haar liggaamsdele in die Vaalrivier gevind is. Foto: Facebook

Mariska Oosthuizen, ’n suster van Botes, het by navraag gesê sy was ’n huisvrou toe sy nog in Gauteng gewoon het.

READ  Boer soek sy kinders wat saam met ma verdwyn

Mense wat beweer sy was ’n eksotiese danseres moet die bewyse bring, sê sy.

Sy sê ’n oormaat inligting het na vore gekom nadat die Facebook-groep “Justice for Yolandi” geskep is. Dit raak by die dag moeiliker om te bepaal wat daarvan eg is en wat nie.

“Ek wil net hê wie ook al vir die wrede moord op my sussie verantwoordelik is, moet gevang word. Ons soek antwoorde vir haar. Niemand verdien wat met haar gebeur het nie,” het Oosthuizen gesê.

Wietzue het by navraag gesê: “My vrou se verlede het niks uit te waai met die feit dat sy onnodig en wreed doodgemaak is nie. Sy het dit nie verdien nie. Hoekom wil almal nou haar verlede oopvlek? Ek is jammer ek kan dit nie aan my vrou doen nie.”

Hy het tot dusver nog geen onderhoude toegestaan nie.

Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Hy het ook bevestig dat die DNS-uitslae van die gastehuis in Kempton Park nog uitstaande is.

• Die veldtog Justice for Yolandi Botes beplan om Saterdag om 11:00 oorkant haar ouerhuis in Brakpan saam te kom om blomme ter nagedagtenis aan haar neer te lê. Mense word gevra om pienk te dra.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.