Vermiste alzheimerlyer (81) dood ná ongeluk

Deur Ischke van Eeden 14 Mei 2021 17:21 soos op netwerk24.com.

Die lyk van ’n bejaarde alzheimerlyer van Pretoria wat sedert verlede naweek vermis was, is in ’n lykshuis in eMalahleni, Mpumalanga, gekry.

John Rodda (81) se seun, Mark, het hom Vrydagoggend uitgeken.

“Ons is baie hartseer. Dis moeilik, want dis ’n groot skok en onverwags. Jy weet amper nie eens hoe om dit te verwerk nie,” sê Michelle Rodda, Mark se vrou.

John Rodda (81) se lyk is Vrydag in ’n lykshuis in eMalahleni, Mpumalanga, gekry

Volgens haar was Rodda Saterdag omstreeks 20:30 in ’n motorongeluk op ’n grondpad naby Balmoral toe hy beheer oor die voertuig verloor en dit omgeslaan het.

Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie en dis nie presies duidelik hoe hy homself daar bevind het nie. Hy het, na verneem word, op die N4 gery en die Balmoral-afrit tussen Bronkhorstspruit en eMalahleni geneem.

Michelle sê Rodda moes deur nooddienswerkers uit die wrak bevry word. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en is ’n uur en ’n half later in ’n hospitaal in eMalahleni dood.

Sy familie is Vrydagoggend na die lykshuis ontbied, nadat een van die werknemers hom die vorige aand op ’n foto herken het.

Rodda se geliefdes het sedert sy verdwyning ses dae gelede elke moontlike leidraad opgevolg.

Hulle het ook die private ondersoeker Mike Bolhuis om hulp genader, wat Callie de Kock as hoofondersoekbeampte in die saak aangestel het.

Volgens De Kock het die werknemer van die lykshuis hom met die nuus gekontak en hy het die familie ingelig.

“Maandag is ’n lykskouing gedoen wat aangedui het Rodda is aan sy beserings dood. In hierdie stadium word geen misdaad vermoed nie, maar ons moet kyk hoe hy daar beland het.”

Rodda het verlede Saterdag om 15:55 in ’n wit Nissan Tiida by die hek van die Wilgers-aftreeoord in die ooste van Pretoria, waar hy woon, uitgery en nooit teruggekeer nie.

READ  Onnies glo hulle is vergiftig, Bolhuis ingeroep

Hy het vir die veiligheidswagte by die hek gesê hy gaan apteek toe, maar hy het nooit daar uitgekom nie, het Michelle vroeër gesê. Hy het geen identifikasie by hom gehad nie.

Sy het bygevoeg dat hy weens sy siektetoestand nie mag bestuur nie en dat hy jare laas agter die stuur van ’n voertuig was.

John en Rosemary Rodda was 59 jaar getroud.

Die familie het ’n paar uur later na hom begin soek toe sy vrou, Rosemary (ook 81), laat weet het hy is weg.

Die egpaar was 59 jaar getroud.

“My skoonma is platgeslaan,” sê Michelle.

“Ons het ten minste nou afsluiting. Ons het soveel hoop gehad.”

Sy beskryf haar skoonpa as ’n wonderlike, saggeaarde en vriendelike man.

“Hy het nooit sleg gepraat van mense nie en was altyd goed vir ander. Ons gaan hom baie mis. Dit was erg om hom die afgelope paar jaar so te sien, maar hy was nogtans rustig en het nooit gekla nie.”

Alzheimer se siekte is sowat agt jaar gelede by Rodda, wat volgende maand sy 82ste verjaardag sou vier, gediagnoseer. Hy was vroeër ’n makelaar.

Rodda word deur sy vrou, drie kinders, twee skoonkinders en vier kleinkinders oorleef.

Stephan Craggs, direkteur van CSI Property Management, wat die aftreeoord se administrasie en operasionele bedrywighede bestuur, sê hy is hartseer om van Rodda se dood te verneem.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.