Tokyo val ‘hook, line en sinker’ vir ‘scam’

Deur Dawie Boonzaaier 25 April 2021 00:32 soos op netwerk24.com

Die private ondersoeker Mike Bolhuis, wat deur die oud-Gautengse premier Tokyo Sexwale gevra is om die beweerde geplunder van miljarde rande uit ’n “geheime fonds” te ondersoek, sê Sexwale het vir ’n slenter geval.

Tokyo Sexwale
Oudminister Tokyo Sexwale in 2016. Getty Images

Sexwale, wat eens ANC-president wou word en ook die plaaslike weergawe van The Apprentice aangebied het, het Sondagaand in ’n onderhoud met die TV-kanaal eNCA beweer hy is een van twee gemagtigdes in Suid-Afrika van ’n geheime “Erfenisfonds” binne die Reserwebank en dat ’n fortuin uit dié fonds gesteel is.

Sexwale, wat tussen 2009 en 2013 minister van menslike nedersettings in Jacob Zuma se kabinet was, sê die fondsbedrag is “tot en met 12 nulle” – genoeg geld om gratis tersiêre onderrig, Covid-19-verligtingshulp en pres. Cyril Ramaphosa se droom van ’n “blitstrein” te finansier.

Volgens Sexwale is die probleem dat die geld gesteel is.

Volgens kenners is die probleem egter dat Sexwale in ’n bykans lagwekkende slenter gevang is.

Dít sal Bolhuis se reguit boodskap aan sy nuwe kliënt wees, het Bolhuis aan Rapport gesê.Valke gaan fonds wel ondersoek.

“Vir Tokyo Sexwale wil ek sê hy is absoluut gevang in sy totaliteit, geheel, met sy hele lyf en al, met al sy kennis, met al sy infrastruktuur: hy’s gescam. Ons gaan dit ondersoek, ons gaan dit identifiseer, en ons gaan dit expose, maar hy (het) hook, line and sinker in hierdie k*k ingeval.”

In die onderhoud op eNCA het Sexwale Sondagaand gesê die fonds word beheer deur ’n baie “magtige familie” in die wêreld en dat geld daaruit geplunder en na ander bankrekeninge “gekanaliseer” is.

Hy het beweer Tito Mboweni, minister van finansies, en selfs Zuma het van die fonds geweet.

Die tesourie en die Reserwebank het Maandag in ’n gesamentlike verklaring aangedui hulle is oor die jare al baie van sulke “bedrogspulle” vertel.

Tokyo Sexwale

Hulle het vroeër reeds korrespondensie van Sexwale en “baie ander” ontvang wat beweer het miljarde rand is gesteel uit ’n fonds waarna verwys word as die White Spiritual Boy Trust. Die geld het kwansuis van ’n buitelandse skenker gekom. Sexwale het sy kommer uitgespreek dat niemand die “diefstal” wil ondersoek nie.

“Verder word beweer dat daar duisende miljarde dollar in die sogenaamde fonds is en dat ’n sekere mnr. Goodwin Erin Webb, onder andere, sy gemagtigde verteenwoordiger in Suid-Afrika is,” lui die Reserwebank se verklaring.

Maar die Reserwebank kon geen bewyse vind dat so ’n fonds bestaan nie.

Donderdag, op ’n twee uur lange mediakonferensie, het ’n beleërde Sexwale volgehou die fonds bestaan en dat Ramaphosa ook daarvan weet.

“Webb” sou kwansuis saam met Sexwale by die mediakonferensie verskyn het, maar moes op die nipper onttrek omdat hy “siek” is. Fanie Fondse, ’n Reserwebank-aandeelhouer, het Sexwale se konferensie onderbreek en beweer hy weet ook van die fonds en hy “ken die eienaars van die fonds persoonlik”.

READ  Boewe teiken paaie: Wat jy kan doen

Fondse het verlede week by die Sandton-polisiekantoor in Johannesburg strafregtelike klagte teen Rama­phosa ingedien oor beweerde korrupsie met die toekenning van ’n kontrak aan die Shanduka-trust vir die bou van skole in die Vrystaat. Die presidensie sê die president was nog nooit by die boubedryf betrokke nie.

In die dokumente wat Sexwale en Fondse egter voorhou, krioel dit van leidrade dat dit als ’n slenter is, sê Bolhuis. Die woord “statement” word verkeerd gespel as “satement” – altyd ’n rooi vlag dat iets skort, sê Bolhuis.

Dit lol ook met bankrekeningnommers: ’n Rekeningnommer wat in Sexwale se dokumente aan ’n Absa-bankrekening behoort, is in Fondse se dokumente ’n FNB-rekening.

In die dokumente word ook beweer “R100 duisend miljard” (in Engels “R100 trillion”) is gesteel in die vorm van 100 000 ton goud wat in 1966 gemyn is. Die ekonoom Mike Schüssler sê daar was nog nie in 1966 soveel gemynde goud nie.

In een brief word beweer altesaam $1,1 duisend miljard, oftewel R16 000 miljard, is in ’n FNB-rekening gedeponeer. Dit sou 54 keer meer wees as die markwaarde van FNB se moedermaatskappy, FirstRand.

Die White Spiritual Boy Trust is in Maart 2020 selfs gediskrediteer op aanlyn forums van die verregse QAnon-groep, wat met uitheemse samesweringsteorieë smous soos dat elke Amerikaanse president sedert 1871 onwettig in die amp is. QAnon-lede het uitgewys die “inligting in die dokumente is duidelik gedokter”.

Die presidensie het nie ’n verklaring oor Sexwale se bewering uitgereik nie, maar ’n bron in die presidensie sê Sexwale probeer polities relevant word. “Dalk het hy gedink hy is die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie se ridder op ’n wit perd met sy praatjies van gratis (tersiêre) onderwys?”

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, sê hulle is ook al met bewerings oor die fonds genader, maar gaan dit op regsadvies nie ondersoek nie.

Die Valke het wel Vrydag bekend gemaak hulle sal die “Erfenisfonds” ondersoek nadat ’n klag van bedrog en diefstal ingedien is deur iemand wie se identiteit die Valke nie wil bekend maak nie.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.