money laundering, crime fighting, crime prevention

R30 000 se donasies vir haar leuens

Soos op: https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/r30-000-se-donasies-vir-haar-leuens-20201213

 

Deur Jana Smit 13 Desember 2020 00:24 

 

’n Pretoriase ma het roerend oor die radio vertel haar vervreemde man betaal nie onderhoud vir haar en haar gestremde dogter nie en sy het twee maande se huurgeld nodig, wil die huis met verf opvrolik en ’n tuimeldroër hê.

 

Die aanbieder Martin Bester.

Luisteraars van Jacaranda FM is so aangegryp dat hulle vir haar R30 000 ingesamel het. ’n Private speurder het selfs in die Demokratiese Republiek van die Kongo na die man gaan soek – net om uit te vind die vrou het blatante leuens vertel.

 

Dié ma van Faerie Glen het die pleidooi in September op die program Good Morning Angels gerig en gesê haar 21-jarige, serebraal gestremde dogter weeg ’n skamele 28 kg.

 

Sy het aan die aanbieder, Martin Bester, gesê nadat die man in Februarie teruggevlieg het na die DRK, waar hy werk, het hulle uitgevind hy het haar dogter en sewejarige kleindogter gemolesteer.

 

“Dis die wonderlikste oupa, het ons gedink, wat jy kan kry, die wonderlikste pappa. My lewe saam met hom was ’n leuen,” het sy gesê.

Die vrou het vertel hulle het nooit berading of terapie gekry om die seer te kan verwerk nie.

 

Boonop het die man volgens haar nie onderhoud betaal nie. “Ek wens iemand kan hom gaan haal.”

‘Hoe gebruik jy ’n kind só?’

Sy het gevra vir hulp met verf om die huis vrolike kleure te verf en het gesê sy wil graag ’n tuimeldroër hê vir haar serebraal gestremde dogter se klere.

 

“Ek wens ek kan 25 liter verf kry om hierdie huis vrolik te verf. Ek probeer en ek voel soos ’n failure soms.”

 

Sy het glo in ’n stadium gehoor haar man is dood, maar sy kry nie ’n doodsertifikaat nie.

 

Die private speurder Mike Bolhuis en sy personeel het dadelik besluit om te help. Hulle het die man springlewendig in die Kongo opgespoor en hy het glo onmiddellik ingestem om terug te kom Suid-Afrika toe.

 

Hy het sy volle samewerking gegee en terug op Suid-Afrikaanse bodem het Bolhuis-hulle besef die vrou se hartroerende aansprake is nie die volle waarheid nie.

 

Wat die vrou nié in die program gesê het nie, is dat hul oudste dogter die verkragtingsklag, wat sy namens háár sewejarige dogter ingedien het, teruggetrek het ’n week voordat die program oor die radio uitgesaai is.

READ  ONDERHOUD FINALMENTE GLOBAL BITCOIN PIRAMIDESKEMA

Volgens die man het hy elke maand ’n groot bedrag geld aan sy vervreemde vrou oorbetaal. Hy het leuenverklikkertoetse geslaag wat deur Bolhuis-hulle gedoen is, aldus die private speurder. Die vrou en haar kinders het nie húl poligraaftoetse geslaag nie, sê hy.

 

In ’n opvolg-uitsending op Jacaranda FM die afgelope week het Bester gesê die bewerings teen die man is nie waar nie. “Ons is geskok en hartseer en ons voel onnosel.”

 

Bolhuis het gesê hul ondersoek was “absoluut weersprekend” van wat die vrou oor die radio gesê het. “Hoe gebruik jy ’n serebraal gestremde kind en hou dit as ’n swaard oor iemand se kop?”

 

Vince Harris, een van Bolhuis se ondersoekers, het gesê die man het die onderhoud nog elke maand ten volle betaal.

 

Theuns Hurter, die man se prokureur, het Saterdag aan Rapport gesê: “Hy ontken enige bewerings ten sterkste, soos die poligraaftoetse gewys het. Dit was baie traumaties vir hom. Hy moes van die Kongo af terugkom.”

Hurter sê sy kliënt betaal nog deurlopend onderhoud.

 

Die egpaar se egskeiding is volgens Hurter amper geskik.

 

Rapport het ’n afspraak met die vrou gehad, maar op besoek gister aan haar huis het haar prokureur, Jackie Zaayman van die firma Robbertse Zaayman, gesê sy het haar aangeraai om nié met die koerant te praat nie en dat sy in dié stadium haar kliënt se regte moet beskerm.

 

“Baie van die goed wat gesê is, is nie feitelik korrek nie, maar ek kan nie nou daaroor praat nie, want dit kan my saak in die wiele ry,” het Zaay­man gesê.

 

Rapport weerhou die betrokkenes se name weens die aard van die bewerings oor die gestremde dogter en kleindogter.

 

Luister Lewendig na die onderhoud hierso

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.