Pta.-trippeldood: Oorsaak van een slagoffer se dood bekend

Deur Carla Coetzee 11 Augustus 2021 soos op huisgenoot op netwerk24.com.

In April vanjaar is drie kollegas van PropMan, ’n bekende eiendomsbestuurmaatskappy, onder raaiselagtige omstandighede dood in ’n huis in Menlo Park aangetref.

Mario Pretorius (23) en Chariska Kloppers (30) is op 17 April saam met hul baas, Theo Kleynhans (60), dood in ’n huis gekry. Die huis het behoort aan Theo, die besturende direkteur van Property Management Authority SA, ’n eiendomsmaatskappy bekend as PropMan. 

’n Uitsig na die huis waar die drie eiendomswerkers gesterf het. Foto: Verskaf

Nou, meer as vier maande later, het minstens een van die families klaring oor wat die oorsaak van hul geliefde se dood was. 

Mario Pretorius se pa, Colin Forbes, het deur middel van die privaat speurder Mike Bolhuis bevestig dat die dwelm gamma-hidrosibutiraat (GHB) in Mario se bloedstroom gevind is. GHB is ’n rekreasiedwelm wat al as verkragtingsdwelm gebruik is.

Die patologiese verslag, wat Huisgenoot onder oë gehad het, het bevind Mario het ’n oormaat GHB in sy liggaam gehad. Alkohol, asook gamma-Butyrolactone (GBL) is ook in sy bloedstroom gekry. GBL sowel as GHB is onwettige dwelms wat tot ’n oordosis kan lei. 

Mario Pretorius is saam met twee van sy ouer kollegas dood ­aangetref in ’n huis in ­Menlo Park. Foto: Verskaf

Huisgenoot het die afgelope vier maande berig verskeie bronne beweer dat Theo gereeld dié dwelms in sy huis gehad het. 

“GBL is ’n gewilde dwelm in die partytjie-gemeenskap. Dit staan bekend as die date rape drug, maar dit word ook gebruik omdat dit ’n high gee. Letterlik ’n milliliter te veel GBL kan tot ’n oordosis lei,” vertel Callie de Kock, ’n ondersoeker wat vir Mike Bolhuis werk en 18 jaar lank vir die polisiediens gewerk het. 

Mike Bolhuis is deur Mario se gesin aangestel om vas te stel wat daardie aand in Theo se huis gebeur het. 

Mario, Chariska en Theo het saam met ander kollegas die Vrydagaand ná werk ’n drankie gaan drink om ’n groot saketransaksie te vier wat Mario beklink het. 

Chariska sou die aand saam met Mario terug huis toe ry wat naby haar woon. Sy het vir die saamrygeleentheid gewag.

Chariska saam haar drie jong kinders.

Huisgenoot het voorheen berig hoe Chariska, ’n ma van drie klein kinders, nog net drie maande by die maatskappy gewerk het en “nooit” gaan kuier het nie. Sy het ook volgens vriende en familie byna geensins gedrink nie. 

Haar liggaam is die Saterdagoggend deur een van Theo se werkers gevind waar sy in ’n stoel gesterf het. Nog ’n vroulike kollega, wie se naam weerhou word, is op die grond gevind. Met die aankoms van paramedici op die toneel het dié vrou nog geleef.

Die stoep waar die twee vroue buite die huis, onderskeidelik dood en bewusteloos, aangetref is. Foto: Skermgreep/Video Verskaf

Twee drankies het op die tafel voor die vroue gestaan, een steeds byna vol. 

READ  Safety and security tips for your holiday travels

Mario en Theo se lyke is by die voet van die trappe gekry. Volgens Callie blyk dit asof al drie slagoffers byna op dieselfde tyd gesterf het. 

Mario se patologiese verslag sê egter die presiese tyd van sy dood is onseker. 

Die kollega wat oorleef het, het later in ’n verklaring aan die polisie gesê sy het ’n drankie by Theo se huis gedrink, badkamer toe geloop en toe word sy dae later in die hospitaal wakker. 

Mario en Chariska se families het albei vroeër aan Huisgenoot gesê hulle sou nooit aan dwelms geraak het nie. “Mario was baie gesondheidsbewus en hy was gekant teen enige dwelms,” het sy pa, Colin, vroeër gesê. 

Chariska se ma, Rita Pretorius, het ook vroeër gesê haar dogter drink byna glad nie. “Sy sou nooit, nooit aan dwelms geraak het nie. Ons hele gesin verpes dwelms.”

Mike Bolhuis sê hulle glo iemand het moontlik die slagoffers se drankies gedokter. 

Callie sê daar is steeds baie onbeantwoorde vrae. 

“Die tydlyn maak nie vir my sin nie. Daai toneel is skoongemaak. Ek was al by baie tonele, maar die glase was silwerskoon. Die asbakke leeg. Die paramedici is eers gebel twee uur nadat die werker hulle gekry het. Die polisie kan daardie data bevestig deur selfoonrekords na te gaan, maar volgens die inligting wat ons het, het hulle nog nie,” sê hy. 

Kol. Noxoli Kweza, ’n polisiewoordvoerder in Gauteng, kon geen nuwe inligting oor die saak openbaar nie. Sy wou ook nie bevestig of die patologiese verslae gefinaliseer is nie. 

“Dit is ’n ander department wat dit hanteer. Ons is steeds besig met die nadoodse ondersoek en kan geen besonderhede bekendmaak nie,” sê sy. 

Noxoli sê sy weet ook nie wanneer meer inligting beskikbaar sal wees nie. 

“Jy moet maar by die families hoor wanneer hulle die resultate gekry het,” sê sy.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.