Pretoria: Vrae oor driedubbele dood spook by geliefdes

Deur Carla Coetzee 17 Junie 2021 Uitgawe 24 Junie 2021 op netwerk24.com.

Hoe sterf drie mense so raaiselagtig saam? Die een se ­familie praat oor hul verlies en ­bespiegelings oor ‘vreemde dinge’ in die huis waar hulle dood is.

Mario Pretorius is twee maande gelede saam met twee van sy ouer kollegas dood ­gevind in ’n huis in ­Menlopark. Foto: Verskaf

Vir sy familie was hy ’n geliefde seun, broer en kleinkind wat vir sy oupa en ouma kospakkies gee om hulle deur ’n moeilike tyd te help. Vir sy meisie was hy die ordentlike en sorgsame jong man wat binnekort haar aanstaande sou wees.

Hulle was almal saam met hom bly toe hulle in April hoor dat hy een Vrydag­aand ’n groot eiendomstransaksie saam met sy kollegas van Property Management Authority SA, die eiendomsmaatskappy bekend as Propman, gaan vier.

Maar Mario Pretorius (23) het nooit weer huis toe gekom nie.

Die volgende oggend, Saterdag 17 April, is Mario in raaiselagtige omstandighede dood in die huis van sy baas, Theo Kleynhans, aangetref. Mario se lyk is digby die trap gevind, langs dié van Theo (60). Elders in die huis is Chariska Kloppers (30), hul ander kollega, gevind. Nog ’n vrouekollega is in ’n kritieke toestand hospitaal toe geneem.

Theo Kleynhans, Mario se baas, is ook dood in sy huis gevind. Foto: Facebook/Theo Klein

Wat daardie aand in Theo se groot siersteenhuis in Menlopark, Pretoria, gebeur het, en hoekom drie kollegas skielik dood is toe hulle oënskynlik saamge­kuier het, weet niemand tot vandag toe nie.

Twee maande later het die polisie­ondersoek steeds geen antwoorde nie. En al wat die ore van Mario se verpletterde geliefdes bereik, is wilde bespiegelings oor “vreemde dinge” in die huis – wat net nog sout in hul wonde is.

“Hoe verwerk jy jou kind se dood?” vra Mario se stiefpa, Colin Forbes (48), kop­skuddend. “Ek sou nog kon aanvaar as hy in ’n motorongeluk dood is, maar só?”

Hulle moes al bewerings hoor dat ­Mario en Theo ’n seksuele verhouding gehad het en dat Mario sy kollegas se drankies met iets gedokter het. Bronne het ook bewerings oor dwelms in die huis teenoor Huisgenoot gemaak.

“Al die mense wat so bespiegel, ontstel my,” erken sy meisie, Lezandri Oosthuizen (23), met wie hy drie jaar in ’n verhouding was. “Maar ek probeer om myself te herinner dat hulle Mario nié geken het nie. Ek en sy vriende en familie hét.”

­Mario en sy meisie van drie jaar, Lizandri, sou binnekort verloof ­geraak het. Foto: Verskaf

Die verslag van die nadoodse onder­soek is nog nie beskikbaar nie, bevestig die polisiewoordvoerder kol. Noxoli Kweza. “Daar is nie tans iets om te openbaar oor die saak nie,” sê sy.

Mario se familie het hulle nou tot die privaat speurder Mike Bolhuis gewend uit desperaatheid om antwoorde te kry oor Mario se dood – en ’n einde aan al die kwetsende bespiegelings te maak.

Mike het die privaat ondersoeker Callie de Kock, wat voorheen 18 jaar lank in die polisie was, gevra om die ondersoek te lei. Aan Huisgenoot sê Callie hy was al op baie misdaadtonele, maar hierdie raaisel laat hom kopkrap.

“Daar is baie dinge vreemd aan dié storie. Dis die skoonste toneel waarop ek al was. Glase gewas, geen sigaretstompies nie . . . En drie mense wat gelyk dood neerval?”

Hy skud sy kop in ongeloof, nes Mario se pa vroeër gedoen het.

Hier op die stoep van Mike Bolhuis se kleinhoewehuis noord van Pretoria sit tien van Mario se familielede wat ingestem het om met Huisgenoot by Mike se woon- en werkplek te praat. Hulle wil hê mense moet weet wie hy regtig was – nie net hul ore uitleen aan wilde bewerings nie.

“Ons is vandag almal hier om oor Mario te praat; vra ons wat jy wil,” sê Colin.

Mario se ­familielede glo sy drankie was gedokter. Agter van links staan John Forbes (broer), John Forbes (oom), Estelle Kotze (tannie), Colin ­Forbes (stiefpa) en Willie Kotze (oom). Voor van links sit Johan Verster (oupa), Elmarie ­Forbes (sussie), Martie ­Forbes (ma), Elma Verster (ouma) en Marie Rossouw (ouma). Foto: Gallo Images/Lubabalo Lesolle

Colin het Mario sedert die ouderdom van drie as sy eie kind grootgemaak. Hy vertel trots watter goeie indruk Mario by Theo se eiendomsaak gemaak het.

READ  Trichardt-moord: ‘Dit breek my dat my kind voor háár kind vermoor is’

“Hy het as ’n 20-jarige daar begin werk en verskeie bevorderings gekry. Hy het omgesien na woonstel- of kantoorgeboue se algemene instandhouding, en hy het dit goed gedoen.”

Mario het die meeste aande óf in sy ouers se huis geslaap óf in die huis van sy meisie se ouers.

“Daai Vrydagoggend het hy gesê hy het ’n groot nuwe woonstelgebou geteken, so almal gaan ná werk vinnig vir drankies, en dan gaan hy saam met vriende rugby kyk,” onthou sy ma, Martie Forbes (44).

Aan Lizandri het hy dieselfde gesê. Sy sou gewoonlik saamgaan, maar sy is vir die naweek na haar ouma se plaas.

Callie sê beeldmateriaal van ’n se­kerheidskamera wys hoe Mario en sy drie kollegas om 22:15 ’n kuierplek in Pretoria verlaat. Maar wat die res van daardie nag in Theo se huis gebeur het, is nog duister.

“Theo se werker het om 07:20 na sy huis gegaan om die hond te voer. Toe hy die mense daar kry, het hy Theo se suster en ma, wat ook op die perseel woon, gaan roep. ’n Ambulans is eers tienuur gebel,” beweer Callie.

Toe paramedici omstreeks elfuur op die toneel kom, het net die een vrou ’n polsslag getoon. Theo en Mario het by die voet van die trap gelê en Chariska buite op die stoep in ’n stoel, so asof sy net aan die slaap geraak het. Die oorlewende vrou is op die vloer naby Chariska gevind.

Volgens on­bevestigde bespiegeling is van die drankies moontlik met gamma-hidroksibutiraat (GHB – ’n rekreasiedwelm wat al as verkragtingsdwelm gebruik is) gedokter, maar of die bewering waar kan wees, weet hulle nie.

Mario sou Chariska Kloppers by die huis gaan ­aflaai het. Foto: Verskaf

Callie sê die oorlewende vrou sê “in haar verklaring aan die polisie sy het ’n Savanna gedrink, badkamer toe gegaan, teruggekeer, en toe word sy in die hospitaal wakker”.

Hy wys foto’s van die toneel. Op die tafel by die plek waar Chariska en die oorlewende vrou gekry is, staan twee botteltjies Savanna, een byna leeg; die ander het net ’n paar slukke weg.

“Ek het aan daai glase op die toneel geruik; hulle was silwerskoon. Asof hulle pas uit ’n skottelgoedwasser gekom het,” sê hy. “Daar was pakkies sigarette, maar elke asbakkie was leeg. Ek is oortuig iemand het skoongemaak voor die polisie daar gekom het.”

Callie is vies oor hoe die polisie die toneel hanteer het.

“Soveel mense was in en uit terwyl forensies besig was. Ons span is eers in die huis in ná die tyd, met toestemming, en ons kry toe skedule 5- en 6-medikasie, en wat blyk dwelms te wees in Theo se skootrekenaarsak,” beweer hy.

“Ons het ook eksplisiete beeldmate­riaal van hom en mans op sy rekenaar gekry, maar niks oor daai aand nie.”

Volgens Callie is dié bewyse die Maandag aan die polisie oorhandig.

Of dié saak ooit opgelos gaan word en of Mario se familie ooit die antwoorde sal kry waarop hulle wag? Dit weet Callie nie.

Colin meen die praatjies oor gedokterde drankies is dalk waar. “Maar een ding weet ek: Dit was nie Mario nie.”

Mario se ma, Martie, beaam: “Hy was verskriklik gesondheidsbewus en het daagliks geoefen. Hy sou nie dwelms en snert gebruik het nie.”

Haar seun was op die punt om Lizandri te vra om te trou, sê Martie. “Hy het die ring en alles gereed gehad.”

En Lizandri? “Mario het beslis nooit sulke dinge gedoen in die tyd wat ons in ’n verhouding was nie,” benadruk sy.

Sy oupa, die een vir wie Mario soms kospakkies geneem het, begin in sy hande huil. Almal probeer hom troos.Dan begin Colin ook snik.

“Ek mis alles van hom. Sy stem, sy grappe. Ons het soveel goed saam gedoen as gesin. Visvang, bos toe. Ons sou nou Margate toe gaan. Ons is een van daai gesinne wat regtig van mekaar hou,” sê hy en vee sy trane af.

Colin en Martie Forbes is gebroke nadat hul seun in raaisel­agtige omstandighede dood is. Hulle sê Mario sou nié dwelms gebruik het nie. Foto: Gallo Images/Lubabalo Lesolle

Martie knik haar kop verslae.

“Die kinders het hul eie lewe, maar dit is hoe ons dinge gedoen het. Ons het dinge sáám gedoen.”

Behalwe daardie een aand. En toe is dit Mario se laaste. 

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.