Opgekapte liggaam in Vaal: Ma wroeg oor haar kind se laaste dae

Deur Jana van der Merwe & Carla Coetzee 21 Mei 2021 Uitgawe 27 Mei 2021 soos op netwerk24.com.

Huisgenoot volg die bloedspoor in die opspraakwekkende moord van Yolandi Botes.

Sy klem die selfoon in haar hande vas asof sy met pure wilskrag die stomme handstuk met ’n boodskap van hoop kan laat biep. Maar niks benewens haar papegaai se geselsies verbreek die doodse stilte hier in die eenvoudige Brakpanse huis nie. 

In haar hart weet die verpletterde Ria van Deventer (59) dat sy nooit weer ’n vrolike teksboodskap of oproep van haar vermoorde dogter sal kry nie. Maar die soveelste keer lees sy daardie laaste WhatsApp-gesprek tussen haar en Yolandi Botes (35) asof dit die raaisel van haar dogter se laaste ure sal oplos. 

yolandi botes en haar ma
Yolandi saam met haar ma, Ria, op hul laaste vakansie saam in Maart vanjaar. Hulle was baie geheg aan mekaar. Foto: Verskaf

Op 26 April, kort nadat Yolandi laat weet het sy het op Johannesburg se O.R. Tambo-lughawe geland op ’n vlug van George af, het sy spoorloos verdwyn. 

Net meer as ’n week later, op 4 Mei, doen ’n pa en seun op ’n visvanguitstappie naby Villiers in die Vrystaat ’n grusame ontdekking in die Vaalrivier: die afgesnyde kop en ledemate van ’n vrou. Op die oorskot is ’n tatoeëermerk – ’n tatoe wat net Yolandi s’n kon wees.

Die nege dae lange soektog na Yolandi was verby.

Maar dit was nog net die begin van ’n grusame riller wat die land geruk het, met bespiegelings oor ’n onthutsende kinkel . . . Ria was histeries toe haar oudste dogter, Mariska Oosthuizen (40), ook van Brakpan, haar inlig: “Ma, sy is weg.”

“Ek het amper hierdie veiligheidshek afgebreek. Ek het net aangehou om dit te ruk en te skreeu: ‘Here, hoekom het jy my kind weggevat?’ ” vertel sy snikkend. Nou bly daar net al die onbeantwoorde vrae – en ’n ontstellende glimp op ’n geheime kant van haar dogter se lewe wat Ria nie geken het nie. 

Daardie laaste WhatsApp-gesprek tussen ma en dogter verskaf geen antwoorde nie. Yolandi het daardie dag Johannesburg toe gevlieg om vir haar kinders aan die Oos-Rand te gaan kuier, en Ria het baie uitgesien na koffie saam met haar dogter.

Op haar foon het sy steeds die selfie wat Yolandi gestuur het, met ’n vliegtuigvlerk op die agtergrond, voor sy in George opgestyg het. Dan, om 10:00, die teksboodskap: “Pas geland.”

En weer om 11:40: “Ek wag nou vir die Uber.”

En toe niks. 

Odette van Staden, ’n privaat speurder wat deur Mike Bolhuis aangestel is, kon later ’n paar legkaartstukke inmekaarpas – maar dit verdiep die raaisel verder. Volgens haar het Yolandi al om 10:58 in ’n Uber geklim en O.R. Tambo verlaat.

Maar die Uber het haar net 6km van die lughawe af by die winkelsentrum The Square afgelaai. 

“Sy is gesien waar sy by die winkelsentrum in ’n privaat voertuig klim. Haar laaste liggingsaanduiding op haar foon was om 11:43, en toe het sy net verdwyn,” vertel Odette. Die volgende nege dae lank het die polisie en sosialemediagroepe na haar gesoek.

“Al wat my staande gehou het, was die wete dat die Here haar sal beskerm. Ek het die hele dag die bloed van die Here oor haar gebid,” vertel Ria vandag waar sy langs haar man en Yolandi se stiefpa, Gert (58), in hul woonkamer sit.

Maar toe kom die grusame vonds in die Vaalrivier – en dit was die begin van die grubespiegelings waaroor Yolandi se geliefdes ook nou snags wakker lê. Want dit was eers toe Yolandi aan die tatoe aan haar afgesnyde arm uitgeken is dat ondersoekers ’n moontlike verbintenis begin ondersoek het met ’n grusame toneel in ’n kamer van ’n gastehuis in Kempton Park.

Wat presies op dié toneel gebeur het, is ook nog ’n raaisel, maar die polisie ondersoek die moontlikheid dat die bloed wat oral in die kamer en badkamer gevind is dié van Yolandi was. Op foto’s van die toneel wat Huisgenoot gesien het, lyk dit soos ’n slagpale. Bloed in die slaapkamer, teen die mure, in die wasbak . . . Maar geen beseerde slagoffer is op die toneel gevind nie, en ook geen lyk nie.

Die polisie is op 3 Mei na die bloedige gastekamer ontbied, die dag voor Yolandi se oorskot in die rivier gekry is. Of dit wel die plek is waar sy haar einde teëgekom het, is nog onduidelik, want weens die agterstand met forensiese DNS-toetse kon die polisie nog nie uitsluitsel daaroor kry of die bloed in die kamer Yolandi s’n is nie.

Die Oceanic Lodge-gastehuis is geleë in ’n besige straat in ’n armoedige deel van Kempton Park, naby die winkelsentrum waar Yolandi laas lewend gesien is.

Hier kan jy enige tyd van die dag of nag instap en kamers huur vir R120 per uur, of R300 per nag. Straatsmouse buite die oop staalhek vertel hulle weet niks van die drama oor die bebloede kamer binne nie.

yolandi botes
Die raaisel rondom Yolandi se verdwyning het verdiep toe ’n bloedspoor in ’n gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe ontdek is. Foto: Papi Morake

Binne wil die eienaar, asook die ontvangsdame wat die polisie op 3 Mei ontbied het, nie ’n woord oor die gebeure rep nie. Hulle wil anoniem bly, dring hulle aan. Buite die Oceanic se kamers sit vroue in groepies op die stoep rond, maar ook hulle swyg toe ons uitvra.

Oor die grugebeure by die gastehuis vertel ’n polisiewoordvoerder, sers. Dipuo Ditshego, dat ’n man  omstreeks 04:00 op Sondag 2 Mei alleen by die gastehuis ingeteken het. Die gas het vir een kamer vir daardie nag betaal.

In die gastehuis se kringtelevisiemateriaal lyk dit of hy die geld uit ’n skootrekenaarsak, wat in ’n swart plastieksak toegedraai is, haal. Hy het glo net ’n naam en geen identiteitsnommer, kontaknommer of adres gegee nie.

Die kringtelevisiebeelde wys hoe die man met die kappietop dan met die swart sak na sy kamer stap, maar minute later die gastehuis verlaat. 

Kort daarna keer hy terug saam met ’n man in ’n denimbaadjie, en dié man betaal dan nog R300 kontant vir verblyf. Later loer die gas by die kamer uit en loop na die lodge se kombuis. Die gas en die man in die denimbaadjie staan dan weer etlike minute buite die kamer en gesels.

Daarna verdwyn die gas in sy kamer in en hy word eers weer byna 24 uur later gesien toe hy om 06:00 die Maandagoggend met sy sak uit die kamer loop.

Toe ’n ontvangsdame die kamer later binnegaan, is ’n nagmerrietoneel aangetref. Bloed – oral. Onder die matras was ’n mes wat aan die gastehuis behoort. Die swart plastieksak wat die man saamgebring het, is leeg in die kamer aangetref.

yolandi botes moordtoneel
Die polisie wag op die uitslae van forensiese DNS-toetse van die bloed wat in die gastekamer gevind is om te bepaal of dit aan Yolandi behoort. Foto: Verskaf

Waar het die bloed vandaan gekom? Op die kringtelevisiemateriaal kan gesien word die man verlaat die kamer omstreeks 06:00 sonder enige sigbare beserings, en daar was oënskynlik niemand by hom in die kamer nie.

Die gastehuiseienaar het aan Netwerk24 gesê die polisie het nie ’n lang tyd op die toneel deurgebring nie, en teen Dinsdagoggend het skoonmakers die bloed begin afwas. Maar later daardie selfde dag – die dag voor Yolandi se oorskot in die Vaalrivier gekry is – het die polisie die Oceanic gebel en gevra dat die skoonmakery gestaak word. 

yolandi botes moordtoneel
Die polisie wag op die uitslae van forensiese DNS-toetse van die bloed wat in die gastekamer gevind is om te bepaal of dit aan Yolandi behoort. Foto: Verskaf

Die vonds wat polisieduikers kilometers verder uit die water gehaal het nadat dit die Dinsdag ontdek is, was grusaam: Yolandi se kop, haar arms, hande en een voet.

Kort voor druktyd het hulle steeds gesoek na haar bolyf, bene en ander voet, het ’n polisiebron bevestig. “Haar vingerpunte is almal afgesny . . . ek vermoed omdat sy terugbaklei het en hulle bang was vir DNS onder haar vingernaels,” vertel die bron.

Kneusmerke aan haar gesig wys sy is moontlik ook aangerand. Die polisie glo haar liggaamsdele is van twee verskillende brûe in die Vaalrivier gegooi: een naby Villiers, en een naby Deneysville. 

Dis danksy die tatoe van Yolandi se troudatum en haar man se naam net onder die elmboog van haar afgesnyde, handlose linkerarm – “Wietz 11-09-2019” – dat hulle haar kon uitken.Nou teister die vrae haar ma. Hoekom het Yolandi nie reguit van die lughawe na haar kinders gegaan nie? In wie se kar het sy geklim? Waarom is sy vermoor, en hoe het die stukke van haar liggaam in die Vaalrivier beland?

“Hoe vermoor jy iemand net en sny haar op in stukkies . . . Dis onmenslik, barbaars. Dit moet ’n monster wees, iemand met geen gevoel nie.

yolandi botes ma Ria van Deventer
”Ria van Deventer, die vermoorde Yolandi Botes se ma, is verpletter waar sy in Brakpan vergeefs op antwoorde wag. Foto: Onkgopotse Koloti

Selfs meer ontstellend vir Ria is die bewerings deur Yolandi se eksman, Donovan (’n skuilnaam), dat haar maandelikse besoeke van haar woonplek in Danabaai na Gauteng nie ter wille van hul kinders was nie, maar vir “besigheid”.

Wat sou dit beteken, wonder sy. En wat moet sy maak van die ontstellende bespiegelings dat haar dogter se moord moontlik verbind kan word met die grutoneel in die Oos-Randse gastehuis?

Yolandi, die tweede jongste van Ria se vier kinders, was nog ’n tiener toe haar pa oorlede is en sy swanger geraak het met haar eersteling. Ria sê niemand weet wie die kind se pa is nie. Daarna het Yolandi nog twee kinders by Donovan gehad. Die kinders woon sedert hul egskeiding agt jaar gelede by hom in Edenvale aan die Oos-Rand.

In 2019 is Yolandi weer getroud met Wietzue Botes, saam met wie sy ten tyde van haar verdwyning nog op Danabaai aan die Kaapse Suidkus gewoon het. Wietzue is in 2010 uit die tronk vrygelaat nadat hy in 2001 weens die moord op twee mans in Parys in die Vrystaat gevonnis is.

yolandi botes en haar man
Yolandi en haar man, Wietzue, met wie sy in 2019 getroud is. Foto: Facebook

’n Betroubare bron vertel Yolandi en Wietzue was hoërskoolliefdes, maar hul paaie het weer gekruis nadat hy op parool vrygelaat is.

READ  Bolhuis Beslis - Binnekort op kykNET!

Ria vertel hoe lekker sy en Gert onlangs in Danabaai by Yolandi en Wietzue gekuier het. “Ons was in Maart net voor die langnaweek daar; Yolandi was so opgewonde oor ons kuier.”

Gert voeg by: “Sjoe, ons was daardie week elke dag iewers anders. Mosselbaai, Hartenbos.” Vir Ria is haar kinders en kleinkinders alles, en sy hou vol Yolandi was op pad na haar eie kinders toe sy verdwyn het.

yolandi botes see vakansie sand
Yolandi, haar ma en stiefpa het hul name in die sand geskryf met hul seevakansie vroeër vanjaar. Foto: Verskaf

Maar in ’n afsonderlike onderhoud vertel Donovan ’n ander storie.

“Ek en Yolandi het net kontak oor die kinders gehad. Sy het die Vrydag laat weet sy sou die Maandag opkom vir besigheid en wou graag die kinders sien. Ek het ingestem.”

Volgens hom sou hy hul kinders na die Greenstone-winkelsentrum in Edenvale geneem het om Yolandi daar vir middagete te sien.

“Maar die Maandagoggend het sy op die nippertjie gekanselleer. Sy was reeds in Johannesburg, maar om 11:30 het sy laat weet sy het ’n vergadering; sy gaan dit nie maak nie,” vertel hy.

“Dinge was so wisselvallig met haar. Sy sou 10 keer per maand planne maak om die kinders te sien, maar eindelik was dit net so een keer per jaar.”

Hy het “geen idee” wat Yolandi vir ’n lewe gedoen het nie.

Maar Wietzue, Yolandi se lewensmaat, sê aan Huisgenoot Yolandi sou nie die ontmoeting met haar kinders gekanselleer het nie.

“Sy was so opgewonde soos ’n skooldogtertjie om die kinders te sien. Sy het baie hard gewerk om ’n stewige band met hulle te vorm; haar kinders en familie was haar lewe,” sê hy.

Sy het nie gepraat van winkelsentrums nie. Daar is baie bespiegelings oor waar, hoe en wanneer; ek is net so in die duister omtrent baie dinge . . .

Hy sê sy het lank aan die besonderhede van haar kuier met haar kinders beplan en wou baie tyd saam met hulle deurbring.

“Sy is met ’n plan soontoe, en sy sal nie sommer van plan verander nie.”

Hy vertel haar vlug was om 08:20, en toe sy net ná 10:00 land, het sy almal laat weet sy is veilig. “Sy het nie gepraat van winkelsentrums nie. Daar is baie bespiegelings oor waar, hoe en wanneer; ek is net so in die duister omtrent baie dinge . . .”

In haar woonkamer vertel Ria toe Yolandi die res van daardie Maandag nie verder op boodskappe reageer nie, het sy aanvaar sy is reguit na haar kinders toe.

“Maar ja, hier teen die aand se kant het ek ’n bietjie bekommerd begin raak.”

Toe sy vroeg die volgende oggend sien Yolandi het steeds geen van haar boodskappe gelees nie, het sy paniekbevange geraak. Yolandi se susters, Mariska en Chanel Herbst, is toe na die polisiekantoor in Brakpan om Yolandi as vermis aan te meld.

Sy’t so geleef. Sy het nie dinge vooruitbeplan nie. Sy was lief vir inkopies en uiteet. Sy het elke dag grimering aangehad, of sy êrens heen gegaan het of nie.

“Jy weet nie waar om te begin soek nie. Sy het nooit by haar kinders uitgekom nie.”

In ’n groot geraamde foto teen die woonkamermuur lyk Yolandi modelmooi.

“Sy was ’n baie live in the moment-mens,” vertel Ria terwyl sy haar trane afvee.

“As sy opkom, sou sy laat weet: ‘Hoor hier, Ma, kom ek kry julle by die mall, dan gaan ons vir ontbyt. Sy’t so geleef. Sy het nie dinge vooruitbeplan nie. Sy was lief vir inkopies en uiteet. Sy het elke dag grimering aangehad, of sy êrens heen gegaan het of nie.”

Sy lag toe sy vertel dat Yolandi onlangs ’n neusring gekry het.

“Sy het ’n foto gestuur: ‘Kyk wat het ek gedoen, Ma.’ “Sy het altyd foto’s gestuur, al het sy net ’n lekker bord kos gekook.”

Maar hoe Yolandi die pot aan die kook gehou het, weet Ria nie.

Later vertel Mariska dat Yolandi soms haar behoeftige ouers geldelik ondersteun het. Maar vra jy haar hoe Yolandi ’n inkomste verdien het, antwoord sy strak: “Jammer, ons mag glad nie daaroor praat nie.”

Drie voormalige vriende van Yolandi, wat nie geïdentifiseer wil word nie, beweer sy was ’n sekswerker en ontkleedanseres aan die Oos-Rand voor sy na die Kaap verhuis het. Een vertel sy het drie jaar gelede alle bande met Yolandi verbreek: “Sy was met die verkeerde dinge besig en ek wou my lewe skoon kry.” 

Ek onthou toe ek lees Yolandi het weggeraak op pad na haar kinders toe, het ek gedink: Dít is ’n k** storie.

Nog ’n man vertel hy het Yolandi goed geken voor hy in 2018 hul vriendskap verbreek het.

“Wil jy regtig weet watter werk sy gedoen het? Ek kan haar gereelde kliënte se name op die punte van my vingers vir jou noem,” sê hy. Hy het ook die name van ontkleeklubs genoem waar sy volgens hom gewerk het.

“Ek onthou toe ek lees Yolandi het weggeraak op pad na haar kinders toe, het ek gedink: Dít is ’n k** storie.” 

Soos haar ander voormalige vriende vrees hy “viktimisering” as sy naam gepubliseer sou word.

Wietzue het by navraag ontken sy vrou was ooit ’n sekswerker.

Mariska vertel sy soek net antwoorde en geregtigheid vir haar suster. “Sy was ’n sagte mens wat altyd vir die wêreld omgegee het. Hoe kan iemand so wreed wees? Hoe slaap hulle in die aand? Jy moet ’n monster wees as dit jou nie pla nie.”

Die legkaart oor Yolandi se bewegings in die 10 dae voor haar liggaamsdele gekry is, bly onvolledig. 

Ek is oortuig iemand het hier ’n kontrak op haar uitgesit. Dis nie die werk van dwelmhandelaars dié nie. Ook nie ’n rower of noodwendig ’n kliënt nie.

Sommige mense beweer hulle het die vermiste vrou, wie se gesig wyd in die sosiale media versprei is, op Tweeling in die Vrystaat gewaar, waar sy haarself as “Michelle” voorgestel het, maar dit kon nie bevestig word nie. 

Haar voormalige vriend, wat aan Huisgenoot besonderhede verskaf het oor haar beweerde lewe as sekswerker en ontkleedanser, glo vas sy was die slagoffer van ’n huurmoord.

“Ek is oortuig iemand het hier ’n kontrak op haar uitgesit. Dis nie die werk van dwelmhandelaars dié nie. Ook nie ’n rower of noodwendig ’n kliënt nie.

“Ek weet daar is mense by wie sy betrokke was met wie jy nié moeilikheid maak nie . . .”

Nadat hy sy vriendskap met Yolandi verbreek het, het sy glo baie rondgetrek. 

“Ek weet nie wat alles in haar lewe aangegaan het nie. Maar ek glo Yolandi het dalk op plekke gaan krap waar sy nie moes nie…

“Ek meen, jy lol nie met sulke ouens nie. Jy bly weg. Bly wég.“ ’n Mens kom net vir so lank weg met dinge in jou lewe; iewerste is daar ’n eindstreep. You live by the sword, you die by the sword.”

Ria sê sy sien nie kans om haar dogter se oorskot te sien nie. Wanneer die polisie dit vrystel, sal die familie dit laat veras. Sy is angstig oor alles wat nog voorlê.

“Dis so senutergend. Ek staal my vir dit wat nog kom, die volgende skok.”

En die moordenaar?

“Ek het ’n vreeslike woede teenoor die persoon wat dit gedoen het. 

“As ek weet wie dit was, kan hulle hom vir my bring . . . Die skuldige moet net boet. Ek het vir hom geen genade nie. Níks.”

Sy kyk weer na Yolandi se foto, en die foto’s van hul laaste vakansie saam by die see. 

yolandi botes selfie
Yolandi is vermoor nadat sy op 26 April vanjaar vermis geraak het toe sy van die Kaap vir haar kinders aan die Oos-Rand gaan kuier het. Foto: Facebook

“Yolandi was lief vir scrapbooking; sy wou nog die vakansiefoto’s bymekaarsit en teen haar muur hang.”

Sy onthou weer hardop: “Gert en Yolandi het nog op Hartenbos op die supertubes gaan ry, en eendag het ons ons name in die sand geskryf.” Dan loop die trane weer. “As ek geweet het dit is ons laaste vakansie saam, het ek nooit weer huis toe gekom nie.”

Sy is verslae toe sy daardie foto deel. Want nou is dit ander foto’s – foto’s van ’n grusame toneel in ’n verlate gastehuiskamer – wat ook by jou opdoem wanneer jy aan Yolandi en die raaisel van haar dood dink.

  • Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, bevestig bloedmonsters van die toneel in die gastehuis is vir forensiese analise gestuur. “Ons weet egter nie hoe lank dit gaan neem nie omdat daar ’n DNS-agterstand is.” Hy voeg by: “Ons ondersoek enige moontlike verbande en natuurlik ook die moontlikheid dat die bloed en die lyk wat in die rivier gevind is met mekaar verband hou.”
  • Die Gautengse polisie ondersoek die bloedtoneel en die Vrystaatse polisie Yolandi se moord. 
More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.