Onnies glo hulle is vergiftig, Bolhuis ingeroep

Onnies glo hulle is vergiftig, Bolhuis ingeroep

Deur Anena Burger 29 September 2021 20:17 op netwerk24.com.

Onnies glo hulle is vergiftig, Bolhuis ingeroep
Die Hoërskool Colesberg, waar die waarnemende hoof en nog vier onderwysers op 15 April skielik siek geword het. Foto: Facebook/Die Hoërskool Colesberg

Vyf onderwysers van die Hoërskool Colesberg in die Noord-Kaap leef in vrees omdat hulle glo hulle is by die skool vergiftig, maar nie die polisie of die Noord-Kaapse onderwysdepartement doen glo iets om die saak te ondersoek nie.

Hulle het op 15 April almal een ná die ander skielik baie siek geword en glo hulle is met organofosfaat vergiftig.

Dit is vyf maande later en die voorval word steeds nie deur die polisie of die Noord-Kaapse onderwysdepartement ondersoek nie.

Die private speurder Mike Bolhuis is nou deur die Colesberg-gemeenskap genader om die voorval te ondersoek.

Bolhuis het Morney Vos, ’n senior spesialisondersoeker, en ondersteuningseenhede in sy spesialiseenheid aangewys om nie net die voorval te ondersoek nie, maar ook hoekom die onderwysdepartement en die polisie in Colesberg nie die saak verder voer nie.

Daar is ook vrae rondom die optrede van ’n dokter wat die vyf onderwysers by die Manne Dipico-hospitaal behandel het.

Ems Pretorius, waarnemende hoof van die Hoërskool Colesberg.
Ems Pretorius, waarnemende hoof van die Hoërskool Colesberg.

Die onderwysers het glo siek geword nadat hulle melk gebruik het uit ’n melkhouer wat vir die waarnemende hoof, Ems Pretorius, gemerk was.

Volgens verklarings deur die onderwysers het Carina du Plessis omstreeks 10:00 in haar klas se pakkamer inmekaargesak.

Zelda von Molendorff
Zelda von Molendorff

’n Personeellid het Pretorius ontbied. Sy het Du Plessis op die grond aangetref en besef sy was nie by haar positiewe nie. Sy het glo verskriklik gesweet en was naar.

’n Ambulans is ontbied om haar na die hospitaal te bring.

Ná die voorval het die personeel tydens pouse in die personeelkamer koffie gedrink.

Pretorius sê in haar verklaring sy het ook koffie gemaak en met die onderwysers gespot omdat haar melkhouer veel ligter as vroeër gevoel het. Hulle het gelag en erken dat hulle soms van haar melk gebruik.

Pretorius het kort daarna begin sleg voel. Sy het in haar kantoor by haar lessenaar op haar arms gaan lê en daarna op die mat. Erge maagkrampe, sweet en kouekoors het gevolg en sy het gesukkel om te praat.

Berton Smouse
Berton Smouse

Terselfdertyd het nog drie onderwysers, Berton Smouse, Zelda von Molendorff en Maruka Zandberg, skielik siek geraak met dieselfde simptome en ineengestort.

READ  MNR MIKE BOLHUIS SPREEK DIE WORCESTER CHRISTEN GEMEENTE TOE EN DEEL INSIGGEWENDE RAAD

Hulle is ook na die hospitaal gebring waar die dokter hul toestand as voedselvergiftiging gediagnoseer het.

Nadat hulle ontslaan is, het al vyf die onderwysers besluit om toksikologietoetse by ’n private laboratorium in Bloemfontein te laat doen.

Die uitslag van die toetse, wat op 19 April gedoen is en waarvan Netwerk24 ’n kopie bekom het, toon dat daar organofosfaat in hul bloed was.

Organofosfate word in insekdoders, medisyne en senuwee-middels gebruik en vergifting kan binne minute tot simptome lei wat insluit verhoogde speeksel- en traanproduksie, diarree, braking, verwarring, sweet en aangetaste spierbeweging.

Maruka Zandberg
Maruka Zandberg

Du Plessis sê ondanks hul pogings om vyf klagte van poging tot moord by die polisie in Colesberg aan te meld, wou die polisie nie hul verklarings neem nie.

“Ons het ook nie saaknommers gekry nie en tot nou toe is die saak nie ondersoek nie.”

Sy sê die onderwysdepartement probeer ook nie om die voorval te ondersoek nie.

“Ons word geïgnoreer.”

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het Maandagmiddag by navraag gesê die Colesberg-polisiekantoor het nou ’n ondersoek na die voorval geopen.

“Die polisie het verklarings en ander getuienis van die klaers gekry en sal die ondersoek aan die staatsaanklaer vir ’n beslissing voorlê.”

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die Noord-Kaapse onderwysdepartement, kon nie Maandagmiddag kommentaar lewer nie en sê die departement sal Dinsdag op die navrae reageer.

Bolhuis sê enigeen met inligting kan hom by 082 447 6116 of Vos by 066 212 5193 bel.

“Ons hanteer alle inligting as uiters vertroulik.”

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.