Olifant vertrap veldwagter: Bolhuis ingeroep

Deur Marietie Louw-Carstens 17 Maart 2021 17:02 op netwerk24com.

Sheldon Hooper (27) Foto: Facebook/Sheldon Hooper

Mike Bolhuis ondersoek die dood van ’n veldwagter wat verlede jaar in ’n wildreservaat in Limpopo deur ’n olifant deurboor en vertrap is.

Sheldon Hooper (27) se pa, Gordon, het die private ondersoeker, aan wie Specialised Security Services behoort, genader om ’n ondersoek te doen na wat presies op 18 Augustus gebeur het.

Hooper en nog ’n veldwagter het die oggend heinings op die Thornybush-wildreservaat nagegaan toe ’n verwoede olifantkoei op hom afstorm. Een van die koei se tande het sy bors, naby sy hart, deurboor. Daar was ook ’n gapende wond aan sy een knie. Die olifantkoei het hom ook vertrap.

Trevor Jordan, uitvoerende hoof van die wildreservaat en die hoofnatuurbewaarder, het gesê Hooper en sy kollega het glo nie ’n trop olifante met kalfies in die dig beboste gebied naby een van die heinings gesien nie.

“Die olifantkoei het in haar aard opgetree en probeer om die kalfies te beskerm.”

Volgens Jordan het Hooper se kollega oor ’n handradio hulp ontbied. Die nooddienste van Hoedspruit was ook blitsig op die toneel.

“Hy het ongelukkig baie bloed verloor en daar was niks wat vir hom gedoen kon word nie,” het Jordan gesê.

Hooper se meisie, Rebecca Rowles, het op dieselfde wildreservaat gewerk. Sy was by hom toe hy dood is.

Sy het ná sy dood aan Huisgenoot gesê dit was ’n spesifieke olifantkoei wat glo voorheen aggressief was wat Hooper doodgemaak het.

READ  Jeremy Van Wyk on KFM Mornings on KFM 94.5 with Mike Bolhuis on Extortion

Jordan het gesê daar is besluit om nie die olifantkoei van kant te maak nie. “Sheldon was so ’n aangename mens en het die wêreld se respek vir olifante gehad. Dat so iets met hom van alle mense moes gebeur, is hartverskeurend,” het hy ná die voorval aan Netwerk24 gesê.

Die Veldgidsvereniging van Suid-Afrika het in ’n verklaring gesê Hooper “was ’n uitstekende veldgids”.

Bolhuis sê hulle wil vasstel wat veroorsaak het dat die olifantkoei Hooper bestorm het. Die gebeure ná die voorval, soos wie hulp ontbied het, sal ook ondersoek word.

“Die gebeure ná die voorval gaan ook deel van die ondersoek wees. Die familie wil hê geregtigheid moet geskied,” het Bolhuis gesê.

Volgens hom wil die familie probeer verhoed dat iets soortgelyks in die toekoms gebeur.

Jordan het nie op navrae oor die ondersoek gereageer nie.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.