Man wat skildery vir Bolhuis verf, sterf in rooftog

Man wat skildery vir Bolhuis verf, sterf in rooftog

Soos op: https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/man-wat-skildery-vir-bolhuis-verf-sterf-in-rooftog-na-hy-dit-pos-20210107

Deur Hanti Otto 08 Januarie 2021 05:45 

’n Man wat as ’n verrassing ’n skildery van Mike Bolhuis geverf en dit kort voor Kersfees gepos het, is ’n week later dood nadat hy op pad van die poskantoor aangeval en beroof is.

John Edward Morgenrood (81) se dogter het Donderdag die nuus aan Bolhuis meegedeel omdat sy bang was dat beeldmateriaal van die voorval verlore kan gaan en sy probeer uitvind waar die spesiale skildery nou tussen Parow in die Wes-Kaap en Pretoria is.

Haar pa wou so graag bekend wees as ’n skilder, en hy het so ’n bewondering vir Bolhuis gehad, sê René Downing.Een van die aanvallers stamp John Edward Morgenrood (81) toe hulle verby hom stap. Foto: SkermgreepEen van die aanvallers maak seker niemand betrap hulle nie, terwyl die ander een John Edward Morgenrood met geweld omstamp. Foto: Skermgreep

Bolhuis, wat sê hy is diep geraak deur Morgenrood se gebaar, maar ook oor sy dood, het net daar aangebied om die voorval gratis te ondersoek en het summier een van sy ondersoekers in die Kaap na Downing gestuur.

Teen Donderdagmiddag is ’n saak van moord by die polisie aanhangig gemaak en beeldmateriaal van ’n straatkamera bekom.

Bolhuis sê een verdagte is reeds in aanhouding in verband met ’n ander aanklag.

“Ek het nie eens geweet van die skildery nie. Dit was bedoel as ’n verrassing. Die nuus oor die oom het my baie ontstel. Hy wou sy lewe lank bekendheid as skilder verwerf en ek sal as laaste eerbetoon sorg dat almal nou van hom weet. Ons gaan hulle (die aanvallers) nail,” sê Bolhuis.

Downing sê haar pa, wat tot sy aftrede ’n meubelwinkelbestuurder was, het homself leer skilder.

Hy het Bolhuis beskou as ’n “rotsvaste” man, ’n “dienaar wat die gemeenskap help en skelms vastrap”.

Hy het foto’s van Bolhuis van die internet afgelaai as navorsing vir sy kunswerk.

John Edward Morgenrood met die skildery van Mike Bolhuis wat hy spesiaal vir die ondersoeker geverf het. Foto: Verskaf

“Hy het op 22 Desember besluit nóú gaan hy dit vir Mike pos,” sê Downing.

Dit was egter reeds namiddag, en sy vrou, Cynthia, het net uit die stort gekom.

“My ma het gesê sy is nie nou gereed om te gaan nie, hulle moet dit die volgende dag doen, maar my pa het voet by stuk gehou en alleen na die Parow-poskantoor gery.”

Net voor 18:00 het iemand haar ma gebel. Hulle het haar nommer gekry op Morgenrood se kruk. Hy is erg deurmekaar in ’n stegie gevind..

READ  Mike Bolhuis gaan klagtes teen Pta-vroedvrou ondersoek

Hy is met ernstige hoofbeserings en bloeding op die brein na ’n hospitaal gebring waar hy op Oujaarsaand oorlede is.

Sy familie het die poskantoor gekontak om te bepaal wat gebeur het.

Luidens die posstrokie vir die skildery wat na Bolhuis gepos is, is die transaksie om 16:30 afgehandel.

John Edward Morgenrood Foto: Verskaf

Op die beeldmateriaal, wat Hein Jooste, Bolhuis se ondersoeker in die Kaap, afgelaai het, kom Morgenrood om 16:39:51 van regs op die skerm om ’n hoek gestap.

Downing se suster, Zelda Hough, het uitgevind daar is veiligheidskameras op die roete van die poskantoor na waar Morgenrood sy motor parkeer het. Hoewel hulle nie die beeldmateriaal kon aflaai nie, kon hulle daarna kyk.

Twee mans kom om die ander hoek en stap in dieselfde rigting.

Een kyk terug oor sy skouer en beduie iets vir sy makker. Dan stap hulle skuins, maak ’n U-draai en stap in Morgenrood se rigting.

Net wanneer hulle langs Morgenrood is, stamp een hom hard teen die skouer sodat hy op sy rug val. Die een man gryp Morgenrood se foon, en om 16:40:04 drafstap hulle weg.

Bolhuis het Downing Donderdag ingelig dat die een aanvaller, wat vroeër in hegtenis geneem is, in die sel sit met dieselfde klere aan as wat hy op die beeldmateriaal aan het.

“Ek wou seker maak dat hy van die oom se moord aangekla word, voordat hy dalk vrygelaat word en ons hom nêrens kan kry nie,” sê Bolhuis.

Hy gaan blomme stuur vir Morgenrood se roudiens wat op 12 Januarie gehou word. Dit sou sy 82ste verjaardag gewees het. 

Sy vier dogters sal kisdraers wees.

“Ons probeer nog uitvind waar die skildery is, want dit is iets baie spesiaal. Ek voel geëerd dat die oom dit vir my gedoen het,” sê Bolhuis.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.