Man wat Bolhuis met boot bedrieg nie in hof

Deur Hanti Otto 30 Maart 2021 16:59  op netwerk24.com.

’n Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van ’n man wat die private ondersoeker Mike Bolhuis jare gelede bedrieg het.

Hugo Ras is ’n beroepsjagter. Hy het verskeie vorige veroordelings en ander hangende sake teen hom, insluitende een waar beweer word dat hy aan die stuur van renosterstropingsindikate was. Ras het nie verlede week in die streekshof in Pretoria-Noord opgedaag nie.

Hy sou dié dag saam met sy medebeskuldigde gevonnis word.

Hugo Ras tydens een van sy ander hofverskynings. Foto: Herman Verwey

Ras en Willem van Jaarsveld is destyds daarvan beskuldig dat hulle ’n gesteelde boot aan Bolhuis “verkoop” het.

Luidens die klagstaat het hulle op 3 September 2011 aan Bolhuis en Vincent Crous, een van sy ondersoekers, valslik voorgegee dat hulle die regmatige eienaars (of in regmatige besit) van die Butt Cat-skiboot Mafuta is en dit vir R200 000 aan Bolhuis sou verkoop.

Dié boot van 26 voet, met ’n destydse waarde van R300 000, is egter gesteel van Joseph Albertus Conroy du Plessis, die regmatige eienaar.

Die twee beskuldigdes het in Mei 2017 skuld op al die aanklagte teen hulle ontken.

Twee jaar later het landdros Pieter Nel vir Ras en Van Jaarsveld skuldig bevind op ’n aanklag van bedrog en een van diefstal.

Van Jaarsveld is ook skuldig bevind aan vervalsing nadat hy ’n kwitansie van Blue Anchor Marine vervals het wat aan Bolhuis en Crous as bewys van betaling gegee is.

Ras is op sy beurt ook skuldig bevind op aanklagte dat hy in Mei 2013 in besit was van ’n semi-outomatiese pistool en ammunisie, sonder ’n wettige lisensie daarvoor. Die saak is later tot Maart vanjaar uitgestel vir vonnisoplegging.

READ  Die Burger Donderdag 30 Septemeber 2021 - 5 Onderwysers glo Vergiftig Bolhuis gekry om voorval te ondersoek

Ras, wat uit was op waarskuwing, was egter nie by die hof nie, glo omdat hy vervoerprobleme gehad het.

’n Lasbrief vir sy onmiddellike inhegtenisneming is uitgereik, maar sedertdien was daar nog geen teken van hom nie.

• Hugo Ras het ook in die hooggeregshof in Pretoria ’n hangende saak teen hom. Ongeveer 300 aanklagte staar hom en nege ander in die gesig. Dit sluit in rampokkery, geldwassery, diefstal, die onwettige besit van vuurwapens, onwettige jag van renosters en die onwettige handel in renosterhoring. Die meeste van die aanklagte is teen Ras.

Die staat beweer 24 renosters is van 2008 tot 2012 vir hul horings gestroop.

Ras is later op borgtog van R25 000 vrygelaat en die saak kom weer in September voor.

Hy is ook sedert 2000 aan verskeie oortredings skuldig bevind, onder meer vir die onwettige vervoer en verkoop van wild, aanranding, crimen injuria en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Verskeie ander sake teen hom is egter deur die jare teruggetrek.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.