Likkewaan met kombers en ‘fopspeen’ uit betonoerwoud gered

Deur Hanti Otto 14 April 2021 20:00 soos op netwerk24.com.

Dit het ’n tik op die boud, ’n “trooskombersie” en later ’n “fopspeen” gekos voordat ’n rondloper-likkewaan Dinsdag nie meer vloermoere gegooi het nie.

Na verskeie kaakklappe en hardekwas-stertswaaie het die lywige reptiel skielik soet op Brendon Riley in die passasiersitplek se skoot in die herfssonnetjie gebak, terwyl die voertuig na ’n natuurreservaat gery het.

“Dit was nogal ’n storie,” lag Nelia Hurter oor wat oorkant haar werksplek soos ’n toneel uit Godzilla begin het.

Hul duikkloponderneming in Koedoespoort, Pretoria, is in ’n nywerheidsgebied.

Stephen Jacobs, wat daar help met veiligheid, het buite by die hek gesit toe ’n taamlik lywige likkewaan sy meer as 1,2 m lange lyf uit die stormwatersloot oorkant die pad sleep.

Soos ’n viertrekvoertuig waggel die likkewaan die paadjie af.

Toe glip hy (of dalk sy, niemand kon seker maak nie) deur die palissade-heining van die perseel oorkant die duikklopper.

“En hy stap so ewe nonchalant met sy flitsende tong langs daardie gebou met die paadjie af,” vertel Hurter.

Sy was bang iemand skrik en maak die likkewaan wat so rondwaggel seer of dood.

Jacobs het dus oor die pad gegaan om ’n oog oor ta te hou terwyl Hurter van die DBV tot die dieretuin bel.

Niemand kon egter kom help nie.

Sy het ten einde laas vir Mike Bolhuis van Specialised Security Services gebel om hulp.

Bolhuis het laat weet hy stuur vir Riley, ’n ou hand met rare dierebesoekers.

Hurter-hulle moes net die likkewaan in die oog bly hou, het Bolhuis gemaan.

Intussen het die likkewaan, asof gebore in die betonoerwoud, onder ’n houtlaaibord ingeglip.

“Stephen het hom aan sy stert probeer uitkry, maar die likkewaan het met sy voorpote aan ’n pyp vasgegryp en geklou,” sê Hurter.

“Stephen het die likkewaan ’n ligte tikkie op die boud gegee dat hy laat los, maar toe sweepslag hy terug en ruk sy stert, so amper asof hy sy . . . ummm . . . stert vir ons wip!”

READ  Boewe teiken paaie: Wat jy kan doen

Jacobs het vinnig ’n kombers oor die reptiel gegooi en die likkewaan onder sy arm vasgeknyp.

“En so kom Stephen terug oor die pad, likkewaan onder die arm . . .”

Die likkewaan in ’n brose oomblik sonder sy trooskombersie.

Al oop “houer” was ’n leë 200 liter-drom. Die likkewaan, wat toe aan die kombers klou, is daarin gesit.

Riley het met hul aankoms die kombers probeer wegvat.

“Hy was glad nie gelukkig met ons nie. Hy het sommer na almal gehap. Ek dink die kombers was vir hom ’n vorm van beskerming. Toe gooi ons hom maar weer daarmee toe.”

Riley het besef hy sal die happende likkewaan iets anders as die mense moet gee om op te fokus.

“As ’n likkewaan byt, hou hy vas – en ek was nie van plan om my hand voor hom te sit nie,” erken hy laggend.

Hy het sy foon voor die skerpkant gesit.

En so, met die foon as ’n fopspeen kalmerend in sy bek, kon Riley die likkewaan om die nek en stert vasvat.

“Hy het daardie foon in sy bek gehou totdat ons in die bakkie gesit het!

“As reptiel het die son in die kar hom rustiger gemaak terwyl ek hom op my skoot vashou tot by die reservaat,” vertel Riley.

Hy voeg by: Die likkewaan het geen beserings gehad nie.

En sy foon werk nog.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.