Harpo die seekoei se rondloper-manewales eindig tragies

Deur Cyril Blackburn 28 Julie 2021 soos op netwerk24.com.

Dis glo Harpo die rondloperseekoei wat die naweek dood is – twee jaar nadat die dier al in 2019 deur ’n rivierkanaal toegang tot die Hartbeespoortdam verkry het en toe op wandeltogte deur Johannesburg gegaan het.

Dit word algemeen aanvaar dat dit Harpo die rondloper-seekoei is wat Saterdag op pad na ’n natuurreservaat aan respiratoriese probleme gevrek het. Foto: Carolyn Steyn/Instagram

Die Northern Farm-natuurreservaat naby Lanseria, die Jukskeirivier in die Fourways-omgewing en die gesogte Steyn City-landgoed net noord van dié voorstad.

Dís al die plekke waarheen Harpo die rondloperseekoei in die afgelope jaar gereis het sedert die dier meer as ’n jaar gelede uit sy natuurlike habitat in die Hartbeespoort-omgewing in Noordwes “ontsnap” het.

Dit word algemeen aanvaar dat dit Harpo is wie se rondloper-manewales Saterdag tot ’n hartseer einde gekom toe hy, op pad na ’n natuurreservaat, aan respiratoriese probleme gevrek het.

Die seekoei is kort tevore deur reddingspanne in Steyn City verdoof in die hoop om hom na ’n plaaslike reservaat te skuif – en by meeste is daar geen twyfel dat dit Harpo was nie.

Harpo toe hy in Januarie in die Fourways-omgewing naby die Jukskeirivier opgemerk is. Foto: Twitter/Crime Air Network Initiative

Richard Mitchell, van die Steyn City Management Association, sê die “ontwykende seekoei” – soos hy na Harpo verwys – is op 20 Julie die eerste keer op dié landgoed gewaar.

“Ons het die seekoei se bewegings langs die Jukskeirivier en sy damme met kameras en infrarooi-hommeltuie begin dophou die oomblik toe ons van sy teenwoordigheid bewus raak,” sê Richard.

Steyn City het die departement van landbou en landelike ontwikkeling gekontak toe Harpo na die gholfbaan – glo naby aan die huise van inwoners – beweeg het. Permitte is aan die landgoed uitgereik om die seekoei te verskuif.

“Die dier is gevang onder die toesig van opgeleide veeartse en verteenwoordigers van die natuurbewaringsowerheid,” sê Richard.

Die veeartse wat verantwoordelik was vir Harpo se hervestiging het egter later laat weet die dier het gevrek op pad na die natuurreservaat, glo weens asemhalingskomplikasies.

“Dit was ’n groot slag vir ons span hier by Steyn City en ook vir die gespesialiseerde taakspan wat alles moontlik gedoen het om hierdie seekoei te beskerm,” sê hy. “Ons het ná ’n lang en inspannende dag gehoop op ’n goeie uitkoms en ’n gelukkige einde.”

Harpo toe hy vroeër vanjaar by die Northern Farm-natuurreservaat naby die Lanseria-lughawe opgemerk is. Foto: Constant Hoogstad

Daar is vandag nog onsekerheid oor presies waar die seekoei – wat op sosiale media Harpo gedoop is nadat hy bekend geword het vir sy wandeltogte naby woonbuurte – vandaan kom.

READ  Pretoria: Vrae oor driedubbele dood spook by geliefdes

Destyds is vermoed die dier kon deur ’n rivierkanaal toegang tot die Hartbeespoortdam verkry het omdat die Jukskei- en Krokodilrivier die dam binnevloei. 

In Januarie vanjaar het die spesialisondersoeker Mike Bolhuis en sy span ingespring om die dier te probeer red en hervestig nadat hy in die Fourways-omgewing opgemerk is, maar Harpo het homself toe uit die voete gemaak voor Mike en sy span hom kon vastrek. 

Weke later het lede van die Endangered Wildlife Trust (EWT) in Johannesburg met die natuurbewaringsowerhede kragte saamgesnoer om Harpo op te spoor en te hervestig.

Harpo is toe nog by die Northern Farms-natuurreservaat naby aan die Lanseria lughawe opgemerk, sê Constant Hoogstad, EWT se senior bestuurder van bedryfsvennootskappe.

“Ons was nie betrokke by die naweek se hervestiging nie, maar die verskuiwing van enige dier is gevaarlik en daar is altyd ’n moontlikheid dat die dier nie sal oorleef nie,” sê hy.

“Ek weet die betrokke spanne het hul beste gegee, maar ’n mens kan nie help om te wonder of dit nodig was nie. Toe ons die dier destyds gemonitor het, het ons gevind hy is gesond en nie ’n onmiddellike bedreiging vir enigiemand nie.” 

IS DIT HARPO – EN WAAROM DIE DIER HERVESTIG?

Die afleiding dat dit Harpo is, word gemaak omdat dié dier vroeër in die omgewing van Steyn City gesien is, sê Nozipho Hlabangana, ’n woordvoerder van die departement van landbou en landelike ontwikkeling. 

“Ons kan dit nie met sekerheid sê nie, maar die logiese afleiding is dat Harpo op ’n manier toegang tot die landgoed verkry het,” sê Nozipho. 

Harpo sou na die Askari Lodge en -natuurreservaat in Magaliesburg geneem word. Daar is besluit om ’n permit uit te reik om die dier te verskuif nadat spore by gholfbaan en klubhuise opgemerk is, sê sy.

“Voor die permitte van Harpo se hervestiging uitgereik is, het die departement saam met die Steyn City-bestuurders ’n volledige inspeksie gedoen. Die gevolgtrekking van die inspeksie was dat die waarskynlikheid van ’n konfrontasie tussen die seekoei en inwoners groot is en dat dié konfrontasies tot sterftes kan lei.

“Die seekoei het beweeg in ruimtes waar inwoners hulle daaglikse aktiwiteite uitvoer en daar is besluit dat dit nodig is om hom te hervestig.”

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.