Gebed vir deurbraak in Vaal-moord: ‘Wíé kon haar soveel haat?’

Deur Jana van der Merwe 08 Julie 2021 op netwerk24.com HuisGenoot.

Die suster van die vermoorde Yolandi Botes, wie se opgekapte lyk op 4 Mei in die Vaalrivier in die Vrystaat gevind is, vertel hulle bid vir ’n deurbraak.

Mariska Oosthuizen van Brakpan aan die Oos-Rand vertel hulle wag nog in spanning op antwoorde. Meer as twee maande het reeds verloop sedert haar suster, Yolandi Botes (35), op 26 April ontvoer en vermoor is.

Die vermoorde Yolandi Botes. Foto: Verskaf

“Ons het nog niks, maar niks. Hulle sê vir ons niks,” vertel sy desperaat. “As jy Facebook oopmaak, die koerante, mense word vermoor. Maar ’n mens soek regverdigheid, iewers moet daar ’n lyn in die sand getrek word. Jy kan nie net ’n lewe vat en wegkom daarmee nie. Dis iemand se ma, dis my sussie! Dis vandag haar oudste dogter se 17de verjaardag. Haar hart is stukkend, want die eerste een wat haar altyd in die oggend gebel het, was haar ma.”

Yolandi se oudste dogters huil by haar kis.

Huisgenoot het vroeër berig Yolandi sou haar twee jongste dogters, wat by hul pa in Edenvale woon, sien op die dag nadat sy op ’n vlug van George by die O.R. Tambo-lughawe geland het. Sy het ook beplan om haar oudste dogter te sien in die tyd wat sy hier was. Yolandi en haar man, Wietzue, woon reeds sedert 2019 in die Kaap en hulle het nie kinders saam nie. Haar oudste dogter woon saam met haar kêrel. Die jongste twee woon reeds jare saam met haar eksman in Edenvale. Yolandi het egter kort ná haar landing haar middelkind per WhatsApp laat weet haar planne het verander. Sy moet eers Boksburg toe. Sy het daarna in ’n Uber geklim en tot by ’n winkelsentrum gery. Van daar het sy in ’n tweede voertuig geklim.

Mariska het haar die volgende oggend as vermis aangemeld. Sy vertel hulle wag steeds op die DNS-uitslae van monsters wat in ’n bebloede kamer in ’n gastehuis in Kempton Park naby die lughawe gekry is. In dié stadium glo hulle nog steeds dit is die sleutelbewys in die ondersoek.

Die polisie ondersoek steeds die moontlikheid dat dié kamer en Yolandi se moord dalk met mekaar verband kan hou.

Yolandi vertel speurders van Villiers ondersoek die saak, maar hulle wag nog vir die DNS-uitslae van die Kempton Park-polisiekantoor wat dit vir forensiese toetse moes stuur. 

Odette van Staden, ’n privaat speurder van Mike Bolhuis se SSS Specialised Security Services, het aan Huisgenoot bevestig ook hulle het nog niks weer gehoor nie.

Odette vermoed die omstandighede rondom die covid-19-pandemie vertraag dit net verder. 

Mariska het Maandag op Yolandi se ondersteuningsgroep, Justice for Yolandi, gevra dat almal help bid vir ’n deurbraak.

Yolandi Botes. Foto: Verskaf

Sy vertel aan Huisgenoot hulle is baie gefrustreerd. 

“Hoeveel mense word intussen onskuldig doodgemaak? As die polisie nie die lading kan hanteer nie, moet hulle ons toelaat om dit privaat te laat doen.”

‘Intussen hoeveel mense word onskuldig doodgemaak? As die polisie nie die lading kan hanteer nie, moet hulle ons toelaat om dit privaat te laat doen.’

Maar tog skemer daar steeds hoop deur in haar stem: “Sien, ek glo hulle is besig. Maar die polisie sal vir ons niks vertel nie, enigiets kan die saak belemmer. Hulle praat nie eens met ons nie. Ons weet so min soos enigiemand daar buite. Hulle sê net: ‘Ons is besig’ en ek is seker hulle ís besig, maar intussen weet ons niks.”

READ  𝙍𝙖𝙙𝙞𝙤 𝙄𝙣𝙩𝙚𝙧𝙫𝙞𝙚𝙬 𝙬𝙞𝙩𝙝 𝙈𝙞𝙠𝙚 𝘽𝙤𝙡𝙝𝙪𝙞𝙨- 𝙋𝙧𝙚𝙩𝙤𝙧𝙞𝙖 𝙁𝙈

Sy vertel Yolandi se drie dogters en ma, Ria, trek swaar.

“Die kinders verstaan nie. Kinders is nie veronderstel om deur hierdie dinge te gaan nie. Hoe verduidelik ’n mens dit aan hulle? Hoe troos ’n mens hulle? En jy kan so iets nie troos nie, want ons het nie eens die antwoorde nie. Ons kan net sê ons is jammer en ons is lief vir jou en ons sal alles vir jou doen wat ons kan.”

‘Die kinders verstaan nie. Kinders is nie veronderstel om deur hierdie dinge te gaan nie.’

Die vrae eet aan haar. 

“Ek kan nie aan een persoon dink wat haar soveel gehaat het nie. Ek ken nie iemand wat iets só wreed kon doen nie. Wat laat ’n mens só iets doen. Ons is baie lief vir almal en Yolandi het die hele wêreld lief gehad en jammer gekry.”

Vir nou het sy min kontak met Yolandi se man, Wietzue.

Yolandi en haar man, Wietzue, met wie sy in 2019 getroud is. Foto: Facebook

“Ons elkeen verwerk die hartseer op ons eie manier. Maar ek glo in my hele hart die Here sal die moordenaars uitwys. Ek glo hulle gaan gekry word. Daar is so baie mense wat saam bid en die Here sal ons gebede verhoor. Hy slaap nie. Ek het die boodskap gekry dat Hy sê ons moet net stilsit en terugsit; hy sal dit doen op sy tyd en wanneer dit sy tyd is, He shall reveal all. Maar dit is so moeilik. Ek dink ons sal baie antwoorde kry as ons die DNS-uitslae gekry het, dan kan ’n ou sê ons het darem iets om mee aan te gaan. Maar die tyd stap aan. Iemand moes iets gesien het.

“Ek vertrou God gaan haar naam in ere herstel. Haar naam wat so deur die modder gesleep is, maar ek dink dit was net ’n plan om mense anderste te laat dink oor haar.

“’n Mens is maar haastig. En ons moet net aanvaar Sy genade is vir ons genoeg. My ma kry ook steeds swaar. Sy het ook die ander dag verjaar, en dit was ’n moeilike dag. Maar ons vertrou. Ons glo die Here het haar liggaam vir ons teruggegee met ’n doel.”

• Huisgenoot het ook navraag gedoen oor die DNS-uitslae by ’n Gautengse polisiewoordvoerder, kapt. Mavela Masondo, maar wag nog op terugvoer.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.