Die bloed sal praat

Deur Jana Smit 16 Mei 2021 00:23 soos op Netwerk24.com.

’n Lyk kón in ’n bebloede kamer in ’n lodge in Kempton Park opgesny gewees het, sê ’n forensiese konsultant en ondersoeker wat foto’s van die toneel bestudeer het.

Die Oceanic Lodge in Kempton Park, waar ’n bebloede kamer gevind is waarin daar volgens ’n deskundige ’n lyk opgesny kon gewees het, te oordeel aan die foto’s. Foto: Deon Raath

Werknemers van die Oceanic Lodge het dié gruvonds op 3 Mei gemaak. ’n Dag later het ’n pa en seun wat naby Villiers visgevang het, liggaamsdele in die Vaalrivier gekry. Aan ’n tatoeëermerk is dit uitgeken as dié van Yolandi Botes (35).

Die polisie wag nog op die toetsuitslae van bloedmonsters wat in die kamer geneem is.

Botes, wat saam met haar man, Wietzue, in Danabaai, Mosselbaai, gewoon het, was in Johannesburg om haar drie kinders uit ’n vorige huwelik te besoek toe sy op 26 April vermis geraak het.

Op ’n bord teen die muur van die Oceanic Lodge word ’n “dagrus van twee uur” teen R150 geadverteer. Skuins oorkant word “luukse kamers” teen R150 by ’n hotel geadverteer.

Die Oceanic Lodge se eienaar het Rapport se navrae na die polisie verwys. Al wat hy wou sê, is dat hulle Botes nooit daar gesien het nie.Patrone toon dat ’n bebloede liggaam op die vloer hanteer is.

Thomas Mollett, ’n forensiese konsultant wat betrokke was by ondersoeke van die moorde op Anni Dewani, Inge Lotz en Susan Rohde, het die toneelfoto’s op versoek van Rapport bestudeer. Hy sê dit lyk asof die lyk of liggaamsdele bo-oor die wasbak gehanteer is. “Die (bloed)patrone langs die wasbak dui dat ’n groot liggaamsdeel oor die wasbak se holte geplaas is. Die wasbak het duidelik nie oorstroom nie (en) die enigste redelike verklaring vir hierdie patrone is die hantering van ’n bebloede liggaamsdeel bo-op of bo-oor die wasbak, wat versoen kan word met die afsny van liggaamsdele.”

Hy sê die verskil in die aard van die bloedpatrone dui daarop dat die liggaam gesleep is.

“Die patrone, anders as die druppels, toon dat ’n bebloede liggaam op die vloer hanteer is.”

Druppels bo-oor sleepmerke wys die druppels het geval nadat die liggaam gesleep is en dui daarop dat dit van ’n hoogte af geval het, volgens Mollett.

READ  Likkewaan met kombers en ‘fopspeen’ uit betonoerwoud gered

Hy sê dis waarskynlik dat die liggaamsdeel oor die wasbak se rand gestrek het en uit die merke lyk dit asof ’n liggaamsdeel op die rand van die wasbak “gerus” kon gewees het.

Botes en haar man, Wietzue.

Prof. Gérard Labuschagne, ’n profileerder, sê ’n voetafdruk kan net soos vingerafdrukke gebruik word om te bevestig wie s’n dit is. Ná berigte dat polisiebeamptes die bebloede gastehuiskamer agtergelaat het en eers twee dae later bewysstukke daar begin versamel het, het kapt. Mavela Ma­sondo, ’n polisiewoordvoerder, gesê ’n ondersoek word gedoen. Tugstappe sal gedoen word as die lede skuldig bevind word.

Die gastehuiseienaar het vroeër gesê die polisielede wat op 3 Mei daarheen gekom het, het glo later gesê hulle sal terugkom as hulle iets te ete gehad het, maar “hulle het nooit teruggekom nie”.

Masondo sê ’n saak oor die bebloede gastehuiskamer sal eers geopen word wanneer die bloeduitslae ontvang is en daar bepaal is dat dit wel menslike bloed is.

Davlyn Bredenkamp (38) van Alberton, wat ’n dekade lank met Botes bevriend was, sê sy was die soort mens wat uit haar pad sou gaan om haar vriende en geliefdes te help.

Sharlise van Dyk, Wietzue se eksvrou en ma van sy drie kinders, sê sy en Yolandi het nie goed oor die weg gekom nie en dat sy “nie ’n engeltjie was nie”.

Van Dyk sê terwyl sy en Wietzue nog getroud was, het hy en Yolandi ’n verhouding gehad. Wietzue het nie op Rapport se oproepe of ’n WhatsApp-boodskap gereageer nie.

Vier mense het volgens Netwerk24 bevestig Botes was tot drie jaar gelede nog by eksotiese danse betrokke.

Die familie het Mike Bolhuis se Specialised Security Services die afgelope week genader om die saak te ondersoek. Odette van Staden, wat drie dekades lank in die polisie was, is die hoofondersoeker.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.