Chester se weduwee in stegie in Parow aangeval

Chester se weduwee in stegie in Parow aangeval

Soos op: https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/chester-se-weduwee-in-stegie-in-parow-aangeval-20210111

Deur Jana Breytenbach 11 Januarie 2021 17:10 

Chester se weduwee in stegie in Parow aangeval
Die stegie by die Parow-kliniek waar daar mense na bewering op ’n daaglikse basis aangeval en beroof word. Foto: Google Maps

Wat ’n winskopie-uitstappie moes wees, het in ’n nagmerrie ontaard toe twee vroue in ’n stegie in Parow, Kaapstad, deur ’n groep mans aangeval is.

Maria Williams, weduwee van die rugbyheld Chester Williams, en haar vriendin Carol Coetzee, het voor Kersfees na ’n damesklerewinkel in Voortrekkerstraat gegaan om winskopies te gaan soek.

Hierdie winkel is langs die stegie waar die kunstenaar John Edward Morgenrood (81) van Parow, op 22 Desember aangeval is. Morgenrood het nie die aanval oorleef nie.

Die polisie het bevestig twee mans is intussen in hegtenis geneem weens die aanval op Morgenrood.

Morgenrood was by die poskantoor waar hy ’n skildery vir die private speurder Mike Bolhuis gaan pos het. Toe hy terugloop na sy voertuig, is hy in dieselfde stegie aangeval en beroof.

Hy is later in die hospitaal dood.

Williams en Coetzee het op 18 Desember in dieselfde parkeerterrein geparkeer en na die winkel geloop.

Williams vertel sy het besef vier mans hou hulle dop. “Ek het vir Carol gesê ons moet baie versigtig wees met ons handsakke, want daar is mans wat ons dophou.”

Hulle is by die winkel in waar hulle items gekoop het.

“Toe ons uitloop het die mans langs ons geloop, soos lyfwagte,” sê Coetzee.

Aiden Smith, bestuurder van die winkel, sê sy het gesien hoe die mans die twee vroue dophou terwyl hulle in die winkel was.

“Toe hulle by die winkel uitloop het ek gesien hulle is besig om die vroue te volg. Ek het een van my personeellede gestuur om hulle te waarsku,” sê Smith.

Die gebreekte hangertjie wat Maria Williams gelukkig nie verloor het nadat ’n man haar in die gesig geslaan en dit van haar nek afgeruk het nie.

Dit was ongelukkig sekondes te laat, want een van die mans het reeds vir Williams met die vuis in die gesig geslaan en haar hangertjie, ’n erfstuk van haar ma, gegryp.

“Ek het so groot geskrik en net baie hard begin skree,” sê Williams.

Die ketting het gelukkig gebreek en die gelukshangertjie het in haar rok afgeval.

READ  Likkewaan met kombers en ‘fopspeen’ uit betonoerwoud gered

Die mans het dadelik weggehardloop.

Sy het van skok begin huil, maar vertel sy het ook ’n gevoel van verligting ervaar toe die mans weghardloop.

Van die mense wat buite die kliniek gewag het, het die vroue kom help.

“Hulle was egter bang om te betrokke te raak want hulle sê hierdie mans hou hulle ook dop en as hulle sou sien dat hulle ons gehelp het, sal hulle geteiken word,” sê Williams. Haar neus is beseer, maar nie gebreek nie.

Byna ’n maand ná die voorval is Williams steeds getraumatiseerd. Sy leef in vrees, veral omdat haar man nie meer daar is om haar te beskerm nie.

“Dit is sleg en afgryslik dat hierdie mense jou sal doodmaak vir ’n foon,” het sy gesê.

Hulle het nie die saak by die polisie aangemeld nie.

Smith sê daar word daagliks mense in die stegie aangeval en niemand voel veilig daar nie.

“Ek dra nie ’n horlosie of juweliersware nie en ek bring ook nie ’n sak saam met my werk toe nie, want ek is bang hulle rand my aan daarvoor,” sê sy.

“Dit is ’n ‘no go zone’. Ons het al met die polisie en met die wyksraadslid gepraat oor hierdie probleem, maar ons sien geen veiligheid hier nie,” sê Smith.

Navrae is aan die polisie en die munisipaliteit gerig. Hul kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.