hugo ras

Bolhuis se bedrieër lank tronk toe

Deur Hanti Otto 18 Mei 2021 20:00 soos op netwerk24.com.

Hugo Ras, die man wat onder andere vir Mike Bolhuis bedrieg het, is Dinsdag op verskeie aanklagte tot effektief 29 jaar tronkstraf gevonnis én gewaarsku dat hy tot gewoontemisdadiger verklaar kan word.Willem Andries van Jaarsveld (met sy rug na die kamera) en Hugo Ras (heel regs) stap na die hofsel nadat hul vingerafdrukke geneem is. Foto: Hanti Otto

Hoewel die saak in die streekshof in Pretoria-Noord spruit uit ’n gesteelde boot wat hy en sy medebeskuldigde, Willem Andries van Jaarsveld, aan die spesialisondersoeker verkoop het, is Ras ook destyds in besit van ’n ongelisensieerde semi-outomatiese vuurwapen en ammunisie betrap.

Ras, voorheen bekend as ’n beroepsjagter, kruis al jare lank swaarde met die gereg. Dit sluit in ’n hangende saak teen hom en Van Jaarsveld oor beweerde betrokkenheid by renosterstropingsindikate, waar die aanklaers glo ook gedreig is.

Die twee beskuldigdes het egter al voor hul inhegtenisneming in die renostersaak vir Bolhuis van Specialised Security Services bedrieg toe hulle op 3 September 2011 aan hom en een van sy ondersoekers valslik voorgegee het dat hulle die regmatige eienaars was of in regmatige besit was van ’n Butt Cat-skiboot van 26 voet en dit vir R200 000 aan Bolhuis sou verkoop.

Dié boot, met ’n destydse waarde van R300 000, is egter van die regmatige eienaar, Joseph Albertus Conroy du Plessis, gesteel.

Die twee beskuldigdes het in Mei 2017 skuld op al die aanklagte teen hulle ontken.

Twee jaar later het landdros Pieter Nel elkeen skuldig bevind op ’n aanklag van bedrog en een van diefstal.

Van Jaarsveld is ook daaraan skuldig bevind dat hy ’n kwitansie van Blue Anchor Marine, wat aan Bolhuis as bewys van betaling gegee is, vervals het.

Ras is op sy beurt ook skuldig bevind op aanklagte dat hy in Mei 2013 in besit was van ’n semi-outomatiese pistool en ammunisie, sonder ’n wettige lisensie daarvoor.

VoorvonnisverslaeHugo Ras probeer sy prokureur se aandag trek voordat hy, gevolg deur Willem Andries van Jaarsveld, die trap na die hofsel afstap. Foto: Hanti Otto

Luidens hul voorvonnisverslae was Van Jaarsveld (49) een van die direkteure van Blue Anchor Marine.

Volgens hom was die boot by hulle vir herstelwerk. Een van sy vriende (Ras) wou dit gebruik om as sekuriteit te bied aan Bolhuis, van wie hy geld wou leen – glo vir ’n goudtransaksie.

Van Jaarsveld voer aan hy het toestemming gehad om die boot aan Ras te leen.Hugo Ras is ’n absolute gevaar as mens-misbruiker en bedrieër. Mike Bolhuis

Ras (47) beweer die onderneming het die boot aan hom “geallokeer” as sekuriteit omdat die onderneming met hom sake wou doen in Sierra Leone, waar hy sedert 2002 ’n diamantmyn besit het.

Dié mynbedrywighede is volgens Ras in 2014 beëindig, nadat hy van betrokkenheid by die renosterstropingsindikaat beskuldig is en die regering hul rekening daar bevries het.

“Die beskuldige sê hy het geld namens Blue Anchor Marine van Bolhuis geleen en toe die boot as sekuriteit aan laasgenoemde gegee.

“Hy hou vol dat die boot aan Blue Anchor teruggegee is en Bolhuis terugbetaal is,” lui die verslag.

Ras is werkloos en oorleef van sy spaargeld. Hy en sy vrou verkoop ook van hul huishoudelike artikels omdat die staat, ook onder meer weens die renostersaak, sy bates bevries het.

Die voorvonnisverslag lui verder: “Die beskuldigde is nie ’n eerste oortreder nie. Hy toon nie berou nie en meen hy het niks verkeerd gedoen nie.

READ  INTERVIEW: DOG POISONING ALERT

“Dit blyk dat hy bewus is van hoe die (reg-)stelsel werk en het die stelsel misbruik.”

VonnisopleggingWillem Andries van Jaarsveld wag dat Hugo Ras klaar met sy prokureur, André Steenkamp, praat oor sy planne om teen sy skuldigbevinding te appelleer. Foto: Hanti Otto

Hanlie du Preez, die aanklaer, het ter strafverswaring aangevoer oneerlikheidsmisdrywe soos bedrog en diefstal kom gereeld voor en die slagoffers is dikwels “naïewe persone, mense wat hard werk vir hul geld, wat val vir die slenters omdat hulle ’n rat voor die oë gedraai word”.

Sy het gesê Bolhuis is steeds nie ten volle vergoed vir sy verlies nie, die booteienaar is geraak en die beskuldigdes neem steeds nie volle verantwoordelikheid vir hul fyn uitgewerkte plan nie.

“Beskuldigde 2 (Ras) het beskuldigde 1 en die slagoffers ingetrek by die kring van bedrog wat slegs vir sy (Ras se) selfverryking was,” het Du Preez gesê.

Nel het tydens vonnisoplegging oor die vuurwapenaanklag teen Ras gesê dit is ’n misdaad wat gewoonlik lei tot ander misdade.

Besit van ’n ongelisensieerde semi-outomatiese wapen word as so ernstig beskou dat die wetgewer ’n minimum vonnis van 15 jaar tronkstraf voorskryf.

“Die gemeenskap verwag ’n straf wat ’n boodskap uitstuur en u voortaan twee maal sal laat dink. Soms is dit nodig om persone uit die gemeenskap te verwyder om die gemeenskap te beskerm.”

Die landdros het met verwysing na die beskuldigdes se kinders wat van hulle afhanklik is, gesê enige persoon wat hulle skuldig maak aan misdaad, moet die gevolge daarvan in ag neem.

Hy het gesê Van Jaarsveld het ’n vorige veroordeling waarvoor hy in 2017 ’n opgeskorte vonnis gekry het.

Ras se misdaadrekord begin reeds in 2000 en strek oor verskeie jare met onder meer oortredings van die Wet op Natuurbewaring en die Wet op Immigrasie, aanranding en crimen injuria.

Daarby is hy in 2009 skuldig bevind op ’n aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, waar ’n skulderkenningsboete vasgestel is.

“Dié hof weet nie hoe hulle daarby (die boetevonnis) uitgekom het nie,” het Nel gesê.

Van Jaarsveld is tot effektief 12 jaar tronkstraf gevonnis, terwyl Ras, wat ’n langer lys vorige veroordelings het, sowel as die vuurwapen-aanklag, tot effektief 29 jaar tronkstraf gevonnis is.Mike Bolhuis Foto: Deon Raath

Bolhuis is bly

’n “Rampokker van formaat, ’n gevaar vir die samelewing” is uiteindelik agter tralies.

So voel Mike Bolhuis van Specialised Security Services oor Hugo Ras se vonnis.

Hy was vol lof vir landdros Pieter Nel, wat “sy voet neergesit het dat misdaad nie betaal nie”, veral in ag genome bewerings dat Ras in die verlede wegkom het met die hulp van “intimidasie, afpersing en omkopery”.

“Hugo Ras is ’n absolute gevaar as mens-misbruiker en bedrieër. Hierdie vonnis wys dat misdaad hokgeslaan kan word deur bekwame regsmense, soos die aanklaer, ons eie ondersoeker en samewerking tussen die polisie en die private veiligheidsbedryf,” sê Bolhuis.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.