Bolhuis gryp in ná man se dood

Deur Jana Smit 16 Mei 2021 00:27 soos op Netwerk24.com.

Die familie van ’n man wat drie weke gelede dood is nadat sy pitbull hom aangeval het, het Mike Bolhuis aangestel om die voorval te ondersoek “omdat te veel dinge nie sin maak nie”.

Sakkie Kotzé se pitbulls, Samuel en Mia, was vir hom soos kinders.

Ná die dood van Izak (Sakkie) Kotzé, ’n afgetrede luitenant-kolonel in die polisie, by sy huis naby Danger Point, in die Wes-Kaap, het bewyse aan die lig gekom dat hy besig was met sy eie ondersoek na perlemoensmokkelary in die omgewing.

Charmaine Botha, ’n vriendin van Kotzé wie se man, Roebel, ook ’n oudpolisieman is, sê verskeie e-pos- en WhatsApp-boodskappe waarin Kotzé die polisie om hulp gesmeek het, is herhaaldelik onbeantwoord gelaat. Kotzé was een van verskeie oudpolisie­lede vir wie Botha gehelp het om kwessies met onbetaalde ongeskiktheidspensioen op te los.

Kotzé se familie hoop dat Bolhuis en sy speurders se ondersoek vir hulle duidelikheid sal bring oor wat presies op die dag van sy dood gebeur het.

Kotzé het op die middag van Saterdag 24 April glo gestruikel toe hy opgestaan het om ’n bak braaivleis binnetoe te neem en sy voet agter ’n stoel gehaak het. Sy hond Samuel het hom aan die keel gegryp en Kotzé is op die toneel dood. Kotzé het twee pitbulls, Samuel en Mia, gehad waarvoor hy blykbaar baie lief was.

Toe die hond vir Kotzé gryp, het ’n vriend wat by hom geloseer het Kotzé se vuurwapen in dié se slaapkamer gaan haal en verskeie skote gevuur om die hond dood te skiet.

Dié vriend het aan die familie gesê Kotzé is in sy arms dood.

Cecil Benade, een van Bolhuis se ondersoekers, sê Samuel se karkas is die afgelope Vrydag by Kotzé se huis opgegrawe en na ’n patoloog in Stellenbosch geneem.‘Dis soos ’n legkaart wat nie pas.’

Benade wil onder meer vasstel of die hond dalk enige middels ingekry het wat hom aggressief sou maak. Dit was glo die eerste keer dat dié hond aggressief was.

Wilrie Bester, Kotzé se susterskind wat in Tulbagh woon, sê die paramedikus op die toneel het gesê die teef, Mia, het vreesbevange en getraumatiseer op ’n rusbank in die sitkamer gesit toe hy by die huis kom. Die hond wou ná die voorval nie van die bank roer nie.

Mia is nietemin ook van kant gemaak en veras.

Bester, wat op ’n plaas woon en ’n breë kennis van diere het, sê geen hond sal sy eienaar sonder ’n rede aanval nie. “Net soos ’n perd ook nie sonder ’n rede sal skop nie. Daar is te veel onbeantwoorde vrae oor die voorval. Dis soos ’n legkaart waarvan die stukke nie pas nie.”

READ  Tokyo val ‘hook, line en sinker’ vir ‘scam’

Kotzé se familie sê volgens inligting wat hulle ontvang het, was daar geen teken dat Kotzé die middag gebraai het nie. ’n Persoon wat kort ná die voorval op die toneel was, het aan vriende gesê daar was nie braaivleis of warm kole toe hy daar opdaag nie.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê die braaivleis was in die kombuis.

Die familie is ook besorg oor die bewyse wat op die toneel versamel is en dat van Kotzé se besittings uit die huis verdwyn het.

Meer as een persoon wat nie in ’n amptelike hoedanigheid daar was nie, het glo op die toneel “met Sakkie se besittings rondgeloop”.

Familielede van Kotzé sê baie items word uit die huis vermis, waaronder kraggereedskap soos ’n boor en slypmasjien. “Mense wat nie polisielede óf familie van Kotzé is nie, is die middag op die toneel toegelaat,” sê een.

Bester sê ook hulle kon tot nou nie daarin slaag om ’n afskrif van die lykskouingsverslag te bekom nie, al het hulle daarvoor gevra.

Hulle wil weet watter beserings Kotzé gehad en wat sy dood veroorsaak het.

Benade is reeds besig om Kotzé se selfoon en skootrekenaar deur te gaan vir inligting wat in die ondersoek kan help. Bolhuis lewer sy dienste pro bono.

Die polisie het die afgelope week nie gereageer op navrae deur Rapport nie, maar het die oorspronklike verklaring oor die voorval aangestuur. Dit lui Kotzé het beserings “aan sy kop en nek gehad wat tot sy dood gelei het”.

Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek, wat in enige geval gedoen word waar misdaad nie vermoed word nie.

Van Wyk sê die familie kan die polisie nader om ’n klag van diefstal in te dien oor die goedere wat vermis word.

Die familie het eergister so ’n klag ingedien.

Volgens Van Wyk het hul kantoor “geen bewys” van enige aansoek of versoek deur die familie vir ’n afskrif van die lykskouingsverslag nie, maar hy sê die familie is “meer as welkom om dit te versoek”.

’n Familielid en Botha beweer toe hulle telefonies dié verslag by die plaaslike polisiekantoor aangevra het, was die antwoord dit is “polisiebesigheid”.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.