Boewe teiken paaie: Wat jy kan doen

Deur Brümilda Swartbooi 19 Mei 2021 06:54 soos op Netwerk24.com.

Voorvalle waarin skerp voorwerpe gebruik word om motoriste van die pad af te dwing en te roof, neem toe op snelweë in dele van Gauteng.

Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noord-streek, sê die skerp toename in dié voorvalle is kommerwekkend.

Hemmens sê volgens buurtwaggroepe neem dit toe in Rooihuiskraal, Centurion, en is die N4 tussen Bronkhorstspruit en Pretoria ’n gevaarsone.

“Een van die omgewings wat regtig vermy moet word, is die N4, en afritte van die N4 waar ons byvoorbeeld vyf insidente in een aand gesien het.

”Die skade aan ’n voertuigband nadat dit skerp voorwerpe in die pad getref het. Foto: Verskaf

Die voorvalle maak mense kwesbaar. As dit met hulle gebeur as hulle op ’n vreemde pad is, is hulle gedisoriënteerd, sê Hemmens.

Die skerp voorwerpe word in sakke versteek of met iets anders bedek.

Karen Yssel, voorsitter van die Cullinan-gemeenskapspolisiëringsforum, sê sulke voorvalle het die afgelope maand veral in die ooste van Pretoria toegeneem.

Dit gebeur hoofsaaklik op die N4 en die R104 tussen Pretoria-Oos en Bronkhorstspruit. In die jongste voorval die afgelope naweek het verdagtes op die R513 tussen Kameeldrift en Cullinan toegeslaan.

“Vrydagaand is agt voertuie ‘gespike’ waarvan ons weet. Drie is suksesvol beroof, met een van die slagoffers wat in die bobeen geskiet is. In die meeste gevalle word mense beroof van persoonlike items – enigiets waardevol, soos beursies, selfone, kontant of wat ook al in die voertuig is.” “Vroeër in Mei is ’n vrou tussen Cullinan en Bronkhorstspruit in die bosse ingesleep waar die aanvallers haar wou verkrag. Gelukkig het ’n ander motoris gestop en ’n waarskuwingskoot afgevuur. Hulle het haar gelos en sy kon wegkom,” sê Yssel.

Volgens Yssel vind die voorvalle tussen 20:00 en 01:00 plaas. Sy raai motoriste aan om hul spoed in donker plekke te verminder sodat hulle ’n beter kans het om uit te swaai indien iets in die pad lê.

“As jy nie die pad kan vermy nie, verminder spoed, hou jou oë op die oppervlak, verwissel van bane sodat jou rigting nie voorspelbaar is nie.”

Yssel sê motoriste moet alle voorvalle by die polisie aanmeld, nie net motoriste wat in die voorvalle beroof is nie. Die polisie het die inligting nodig om te weet waar om die misdadigers vas te trek.

Yssel sê hulle probeer om TracN4 te kontak om te hoor wat hulle doen om motoriste se veiligheid op die N4 te verseker. “Dit is immers ’n private maatskappy wat die tolgeld invorder vir instandhouding, so ’n groot deel van die verantwoordelikheid rus op hul skouers.”

READ  Platinum Bushvelder October 1 2021 Issue 1

’n Woordvoerder van ’n veiligheidsmaatskappy wat verkies om anoniem te bly sê mense moenie stop as hulle hulself in so ’n situasie bevind nie. “Bel die naaste polisiekantoor of ’n familielid vir hulp.”

Volgens die woordvoerder vind die insidente ook op die N1, die N14, die R80 en in Brits plaas.

Jaco van der Merwe (23) ’n inwoner van Pretoria-Oos, sê hy ry nie meer saans nie nadat hy vroeër vandeesmaand oor sulke skerp voorwerpe gery het. Dit het omstreeks 21:30 op die N4, in die rigting na Emalahleni (Witbank) net ná die Donkerhoek-tolhek, gebeur.

Nadat hy oor die skerp voorwerpe is, het hy naby ’n ander voertuig gestop wat dieselfde oorgekom het.

Hulle is nie dié aand beroof nie.

Hy sê die skerp voorwerpe is redelik hoog en sy motor is aan die onderkant beskadig. Hy raai mense aan spoed te verminder, nie te stop nie en ’n noodnommer te bel as hulle skerp voorwerpe tref.

Al wat oorgebly het van ’n wiel nadat dit onlangs skerp voorwerpe op ’n pad getref het. Foto: Verskaf

So werk die misdadigers

Die private ondersoeker Mike Bolhuis verduidelik in ’n verklaring wat die misdadigers se modus operandi is:

• As die voertuig 400 m tot 500 m weg is, word die skerp voorwerp op die pad gegooi.

• Misdadigers plaas die skerp voorwerpe in swart plastieksakke of in kartondose sodat dit nie duidelik sigbaar is nie.

• Daar is gewoonlik twee groepe betrokke by hierdie misdaad – een is verantwoordelik vir die skerp voorwerpe en die ander beroof mense.

• Die tweede groep wag 50 m tot 150 m van die plek waar die skerp voorwerpe uitgegooi is.

• Misdadigers hang ook klippe en bakstene op voorruit-hoogte aan brûe om voertuie tot stilstand te dwing.

More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.