Bloed in gastehuis toe nie dié van vermoorde Yolandi Botes

Deur Isabel Venter 28 Julie 2021 14:50 soos op netwerk24.com.

Waarskuwing: Van die foto’s hierby kan lesers ontstel.

Yolandi Botes (35) Foto: Facebook/Melinda Oosthuizen

Die plasse en plasse bloed wat vroeër in ’n kamer van ’n gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park gevind is, is nie dié van die vermoorde Yolandi Botes nie.

Odette van Staden, spesialisondersoeker van die private speurder Mike Bolhuis se ondersoekspan wat met die ondersoek help, het Woensdag dié inligting aan Netwerk24 gegee.

Netwerk24 het by nog ’n bron na aan die moordondersoek bevestig die DNS-profiel van die bloed is dié van ’n onbekende manlike persoon.

Die 35-jarige Botes is die laaste keer lewend gesien toe sy op 29 April van George na die O.R. Tambo-lughawe gevlieg het. Sy wou glo in Brakpan gaan kuier by haar drie kinders (17, 15 en nege jaar oud) uit ’n vorige verhouding, maar het nooit daar opgedaag nie.

Nege dae later het die soektog na haar geëindig toe dele van haar lyk op 4 Mei in die Vaalrivier naby Villiers in die Vrystaat gevind is.

Voor dit is die polisie na die Oceanic Lodge-gastehuis in Kempton Park ontbied oor plasse bloed in een van die kamers. ’n Bebloede mes is ook in die kamer aangetref.

Brig. Sam Makhele, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die DNS-uitslae is nog nie amptelik bekend gemaak nie, maar dit sal binnekort gebeur.

Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het verder gesê die moordondersoek is terugverwys na die Vrystaatse polisie omdat Botes se liggaamsdele daar gevind is.

Hy kon nie dadelik sê of die polisie in Gauteng ’n moordsaak geopen het om die gastehuisvoorval verder te ondersoek nie.

Makhele sê daar het nog geen nuwe leidrade in die Botes-ondersoek aan die lig gekom nie.

“Daar is geen nuwe verwikkelinge in die saak nie.”

Volgens Van Staden is daar nog forensiese verslae waarop die polisie wag. Bolhuis sê dis belangrik om in gedagte te hou dat die ondersoek van dié verslae afhanklik is.

READ  Kinderontvoering en mensehandel: Hoe groot is die probleem werklik?

“Ons span se ondersoek is van die verslae afhanklik wat sloer weens redes soos die pandemie, onluste en korrupsie,” sê Bolhuis.

Botes se familie het intussen Dinsdag op Facebook aangekondig dat ’n beloning van R50 000 uitgeloof word vir die vastrek van die moordenaar(s).

Mariska Oosthuizen, ’n suster van Botes, het by die plasing geskryf: “Ons wil dit nie net vir Yolandi doen nie, ons wil keer dat dié wat haar vermoor het, dieselfde aan iemand anders doen.”

Die bloed op die vloer van die gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park. Foto: Heleen Rossouw/Kempton Express

Volgens die plasing word Botes se trouring en hangertjie nog vermis.

Netwerk24 het vroeër berig oor iemand wat op beeldmateriaal gesien kan word waar hy ’n kamer van die gastehuis in Kempton Park verlaat.

Die man, in ’n donker kappietop, is by die gastehuis afgelaai en betaal kontant vir die kamer. Hy kry die mes uit die kombuis, ontmoet ’n tweede man en word dan baie min gesien voordat hy die gastehuis die volgende dag verlaat.

Volgens Masondo word daar nog ’n interne ondersoek gedoen om vas te stel hoekom die polisie eers monsters ingesamel het nadat die kamer opgeruim is.

“Die ondersoek is ’n interne arbeidsondersoek en sal nie verder in die media bespreek word nie,” sê hy.

Die toestand van die stort in die gastehuis. Foto: Heleen Rossouw/Kempton Express
More Real News

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

Scroll to Top

Join our list

Subscribe to our mailing list and get interesting stuff and updates to your email inbox.

Thank you for subscribing.

Something went wrong.

No thanks, I do not want to right now.